Central SA
Fratsongeluk eis jong Noord-Kapenaar─── CHARNÉ VAN DER MERWE 15:19 Tue, 24 Jun 2025

’n Jong man van die Noord-Kaap wat Saterdag (21/6) in ’n fratsongeluk by ’n myn oorlede is, sou in Augustus verloof geraak het.
Johan Erasmus (22), ’n assistent-ketelmaker by GF Mining, het die afgelope vier jaar op die myn buite Douglas gewerk. Hy het diens gedoen toe hy tydens ’n ongeluk by een van die myn se vervoerbande gesterf het.
Teen die tyd dat hulle hom uitgetrek het, is hy reeds dood verklaar.
“My kind was op pad na die vervoerband toe. Hulle glo hy het gegly en binne-in die vervoerband beland,” vertel Corlia Erasmus, Johan se ma.
Hy en sy pa, ook Johan, het saam by die myn gewerk. Johan het Vrydagaand nagskof gewerk en dit was toe Saterdagoggend sy seun se beurt. “Hy het nog vir sy seun gesê om hard te werk en veilig te wees, net voor hy ná sy eie skof gaan rus het.”
Corlia en haar twee seuns, JJ en Johantjie. Foto: Verskaf/Corlia Erasmus
Volgens Corlia het die ongeluk omstreeks 12:00 plaasgevind. Johan het nog geslaap toe hulle die verpletterende nuus aan hom oorgedra het. “My man is deur die skofbestuurder wakker gemaak. Hy het vir hom gesê hy weet nie wat om te sê nie, maar sy seun was in ’n ongeluk en is oorlede.”
Corlia vertel dat sy die hele dag rusteloos gevoel het. “Ek het vir sy meisie, Chanelle Venter, gevra of sy iets van Johantjie gehoor het, want ek het hom twee keer probeer bel, maar hy het nie geantwoord nie.
“Ek het vir sy pa ’n boodskap gestuur en gevra of Johantjie saam met hom die nagskof werk en of hy dalk huis toe kom. Ek het weer ná 03:00 gevra en steeds niks van die ongeluk geweet nie.”
Johan was lief vir oefen. Foto verskaf/Corlia Erasmus
Sy sê sy het ook haar ma gevra om hom te probeer bel, om te kyk of hy dalk haar oproep sou beantwoord. “Sy het hom probeer bel en toe vir my gesê dat hy waarskynlik nog werk.”
Toe die bakkie om 17:00 by die huis stilhou, het Corlia vir Chanelle gesê: “Hier is Johantjie nou!” Maar toe klim sy pa uit die voertuig.
“Hy het na my toe geloop en gesê ek moet binnekom en gaan sit. Ek het hom gevra hoekom. Hy het net gesê ek moet kom. Dit is toe dat hy vir my en vir Chanelle die verpletterende nuus gegee het.”
Corlia beskryf Johan as ’n spesiale kind. “Hy was baie spontaan en ’n regte mense-mens. Hy het baie vriende gehad en het maklik in mense se hart ingekruip.
Johan en sy meisie, Chanelle Venter. Foto verskaf/Corlia Erasmus
“Mense het altyd gesê hy is een van die ordentlikste jong mans met die mooiste maniere. Ek is so trots – so trots – op my kind.”
Johan sou op 17 Augustus 23 geword het.
Volgens Corlia was hy mal oor oefening. “Hy het daarvan gehou om fiks te bly en het selfs aan ’n kompetisie in Kimberley deelgeneem.
“Hy was trots op wat hy gedoen het en trots op sy werk. Wanneer sy pa oor naweke moes werk, het Johantjie saam met hom die nagskof gewerk. Dit was iets spesiaals wat hulle twee gedeel het.
Johan was die eerste een om te hoor sy seun is oorlede. Foto verskaf/Corlia Erasmus
“Ek gaan alles van my kind mis – veral die manier waarop hy gelag het en die glimlag wat hy altyd op sy gesig gehad het.”
Sy vertel dat JJ Erasmus (19), Johan se jonger broer, sy dood baie swaar vat. “Almal wat Johantjie geken het, kan net nie glo dat dit gebeur het nie.”
Johan se tannie, Jessica Abbott beskryf hom as ’n seun met die mooiste maniere. “Hy was nederig en met min tevrede. Ons gaan hom verskriklik mis, en kan sy leemte alreeds in ons lewe voel.”
Volgens Corlia was hulle van plan om die begrafnis op Saterdag (28/6) te hou, maar weens die nadoodse ondersoek moes dit uitgestel word.