On Now
Weekdays 19:00 - 22:00
OFM Nights Ashmund
NEXT: 22:00 - 23:59 Overnight with Oscar
Listen Live Streams

Central SA

Vrystater gevonnis oor foto van minderjarige

───   CHARNÉ VAN DER MERWE 15:25 Tue, 24 Jun 2025

Vrystater gevonnis oor foto van minderjarige | News Article
André Meyer. Foto: SAPD

’n Vrystater is ongeskik verklaar om met kinders te werk nadat hy daaraan skuldig bevind is dat hy kinderpornografie vervaardig het.

André Meyer (29) is Vrydag (20/6) gevonnis in verband met ’n voorval waarby twee twaalfjariges van ’n Bloemfonteinse skool betrokke was, sê kapt. Lorraine Earle, provinsiale polisiewoordvoerder. 

Meyer, wat skuldig gepleit het, is ’n vonnis van drie jaar tronkstraf opgelê, opgeskort vir vyf jaar, ingevolge Artikel 24(b) van die Wet op Films en Publikasies – Skepping van Kinderpornografie. Sy naam sal op die nasionale register vir seksuele oortreders geplaas word.

Foto ter illustrasie: iStock

Volgens Earle het die voorval op 29 Februarie 2024 plaasgevind tydens ’n sportbyeenkoms. 

“Twee seuns het ’n kleedkamer binnegegaan nadat ’n volwasse man die deur vir hulle oopgesluit het. Terwyl hulle besig was om water af te slaan, het die man in die geheim ’n foto van die een geneem.”

Sy sê die tweede seun het gesien wat gebeur en onmiddellik sy vriend gewaarsku. “Toe die man gekonfronteer word, het hy beweer dat dit vir die grap was, die foto voor hulle uitgevee en hom uit die voete gemaak.”

Nasionale register vir seksuele oortreders

Die slagoffer het vir sy ma vertel wat gebeur het. Die verdagte is later deur die seuns geïdentifiseer as ’n kontraksjef wat in die skool se koshuiskombuis werk. 

’n Klag van crimen injuria is aanvanklik by die Parkweg-polisiekantoor aanhangig gemaak. Earle sê tydens verdere ondersoek is Artikel 24(b) van die Wet op Films en Publikasies bygevoeg om te verseker dat die erns van die oortreding behoorlik aangespreek word. 

“Hierdie aanklag behels die gebruik van ’n kind in die skep van materiaal oor seksuele misbruik van kinders, wat verseker dat die verdagte op die nasionale register vir seksuele oortreders geplaas sal word en in die toekoms verbied sal word om met kinders te werk.”

OFM Nuus mvh

@ 2025 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.