On Now
Weekdays 15:00 - 18:00
The Joyride Nico, Nikki, Kayla and JayBee
NEXT: 18:00 - 19:00 OFM Business Hour with Olebogeng
Listen Live Streams

Central SA

Bestuurder glo landuit ná N8-ongeluk drie kinders eis

───   CHARNÉ VAN DER MERWE 11:13 Wed, 25 Jun 2025

Bestuurder glo landuit ná N8-ongeluk drie kinders eis | News Article
Die drie leerlinge wat oorlede is. Foto: Facebook

Die bestuurder van een van die voertuie wat betrokke was by die noodlottige ongeluk buite Bloemfontein waarin drie kinders gesterf het, is vermoedelik landuit.

Die bestuurder se pa het aan OFM Nuus bevestig sy seun is tans in die buiteland, maar wou op regsadvies geen verdere kommentaar oor die saak lewer nie.

“Daar is soveel dinge wat ek graag wil sê, want op hierdie stadium moet ek kyk hoe die media berig, maar vir nou kan ek nie.” ’n Foto, wat op sosiale media geplaas is, wys hoe ’n agentskap die bestuurder (19) van die bakkie verwelkom.

Yolandé en Martin Smit het albei hul seuns, Ayden (links) en Ryan (middel), verloor. Foto: Facebook/Martin Smit

Ryan Smit (6) en sy niggie Leané van Papendorp (8) is Vrydag 23 Januarie op slag dood terwyl hulle op pad skool toe was. Die Chevrolet Spark waarin hulle gery het, was betrokke in ’n botsing met ’n Toyota Hilux op die kruising van die N8 en Krugerlaan, naby Aljo se Superspar.

Ryan se ouer broer, Ayden (8), is met ernstige beserings na die Busamed-hospitaal gehaas. Sy hart het twee keer gaan staan voordat hy dood verklaar is.

Die bestuurder van die Hilux het ’n sleepwa met swaar metaal daarop gesleep en na bewering oor die rooi verkeerslig gery. 

Adri Jonck, Leané se ma en die bestuurder van die Spark, het ernstige beserings opgedoen en is na die Pelonomi-hospitaal geneem, maar is dieselfde dag ontslaan.

Nog ’n kind, Tennique Joubert (6), was byna twee weke na die ongeluk in ’n koma in die Pelonomi-hospitaal in Bloemfontein. As gevolg van die erns van die impak moes Tennique se milt verwyder word. 

Sy is ná 19 dae se behandeling ontslaan.

Martin Smit, vader van die oorlede seuns, sê hy beleef nie net frustrasie nie – dis irritasie, dis pyn, dis alles weens die feit dat niemand nog ná meer as vyf maande sedert die ongeluk vervolg nie.

“Elke keer as ek dink dinge beweeg uiteindelik vorentoe, kom iets nuuts na vore. Iets meer is nodig. Iets anders is nog steeds uitstaande.”

OFM Nuus het in April berig dat Smit op 9 April by die polisiekantoor was. 

Bid vir Tennique, vra bedroefde skool ná botsing buite Bloemfontein | News Article

Tennique Joubert. Foto: Facebook/Dr CF Visser Primêre Skool

Volgens die polisie wag hulle steeds vir getuieverklarings, ’n doktersverslag van die nadoodse ondersoek en die dashcam-beeldmateriaal.

Hy sê elke keer is daar net meer en meer inligting waarvoor hulle wag, maar die saak vorder nie.

Volgens Smit is hy ’n paar weke gelede meegedeel dat hulle net vir die nadoodse verslag wag. “Toe het die dokter wat dit gedoen het, vir my gesê die verslag is reeds klaar – maar hy moes dit weer indien. Goed. 

Herman van Papendorp en Adri Jonck met die foto van hul dogter, Leané. Foto: Charné van der Merwe

“Toe is ek meegedeel dat hulle nou wag vir die kettingverslag. En nou wag ek steeds en hoor dat daar meer dinge uitstaande is.”

Hy sê dat elke keer as hy sy hoop opbou, dit weer vertraag word. “Elke keer as ek dink ons beweeg vorentoe, vind ek ons sit steeds vas. Niks konkreets nie. Niks opgelos nie.”

Smit sê dis asof hy nie uit die nagmerrie kan wakker word nie. “Is dit werklik? Is dit geregtigheid? 

“Ek is kwaad. Ek is uitgeput. En ek begin voel asof die polisie my net probeer paai. Hulle bly vir my sê om geduldig te wees.

“Maar hoe lank moet ek geduldig wees? My kinders is dood? 

“Om heeltemal eerlik te wees, ek kan dit nie meer verduur nie. Ek sukkel om dit bymekaar te hou.

Paramedici was gou op die toneel op die hoek van die N8 en Krugerlaan. Foto: Facebook/Ntando Mkhuzangwe

“Ek voel asof ek my verstand verloor. Ek voel asof ek mal word – en dit alles omdat ek aanhoudend vertel word om meer vertragings, meer wag, meer stilte te verwag.”

Die Smit-familie se prokureur, Adriaan van Rensburg, het Woensdag (25/6) gesê die ondersoekbeampte het hom ingelig die nadoodse ondersoeke is in die dossier ingesluit, maar daar is slegs ’n paar besonderhede uit die verklaring wat hy nog wil verifieer.

Kapt. Lorraine Earle, provinsiale polisiewoordvoerder, het bevestig dat niemand nog aangekla nie is. “Die DOV moet nog ’n besluit neem.”

OFM Nuus/Charne van der Merwe mvh

@ 2025 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.