Central SA
Kamma-makelaar van Noord-Kaap se hofsaak begin dan─── CHARNÉ VAN DER MERWE 11:27 Thu, 26 Jun 2025

Die Noord-Kapenaar (30) wat daarvan beskuldig word dat hy beleggers uit miljoene rande bedrieg het, word op 18 Julie weer in die hof verwag wanneer die voorlopige hofverrigtinge sal begin.
Ruan Maritz het Woensdag (26/6) in die spesialishandelsmisdaadhof op Hartswater verskyn op ’n aanklag van bedrog, nadat hy na bewering beleggers uit R2 miljoen bedrieg het, sê kol. Tebogo Thebe, Valke-woordvoerder.
Maritz het na bewering voorgegee dat hy ’n makelaar vir Quick Trade Investment and Forex Trading was en toegeslaan op die klaers en ander voornemende beleggers, sê Thebe.
Die beleggingskontrak het bepaal as beleggers 50% van die belegging bydra, sou Maritz dit ewenaar.
Hy het egter na bewering nie sy kant van die ooreenkoms nagekom nie.
Die Valke se ondersoekeenheid vir ernstige handelsmisdaad het Maritz op 25 Maart in hegtenis geneem. Hy is die volgende dag borgtog van R50 000 toegestaan.