On Now
Weekdays 00:00 - 05:00
Early Mornings Oscar
NEXT: 05:00 - 06:00 The Agri Hour with Gerben
Listen Live Streams

Central SA

Drie Vrystaatse boere se saak hervat Vrydag

───   CHARNÉ VAN DER MERWE 17:41 Thu, 26 Jun 2025

Drie Vrystaatse boere se saak hervat Vrydag | News Article
Die drie beskuldigdes. Foto: Charne van der Merwe

Die verhoor van drie Vrystaatse boere, onder wie twee susters, is tot Vrydag (27/6) uitgestel weens ’n versoek deur die verdedigingspan vir die dagboek van die polisiebeampte wat op die toneel was.

Janné en Lize-Mari Smith, saam met Hendrik Steyn van die distrik Verkeerdevlei, het Donderdag in die Brandfortse landdroshof op aanklagte van poging tot moord, ontvoering, aanranding en regsverydeling verskyn.

Die drietal is in Augustus 2023 in hegtenis geneem nadat die Smith-susters probeer het om ’n beweerde veediefstal op hul eiendom te voorkom. Steyn het hulle na bewering bygestaan. Hulle is op borgtog van R2 000 vrygelaat nadat hulle drie nagte in aanhouding deurgebring het.

Verklaring, getuienis verskil

Die saak is uitgestel nadat dit aan die lig gekom het dat die polisiebeampte sers. Ntombi Lydia Matlho se skriftelike verklaring en haar getuienis in die hof nie ooreengestem het nie. 

Adv. Allen Simpson, Steyn se verteenwoordig, wou by die beampte weet of sy haar dagboek gebruik het om haar verklaring saam te stel. Die beampte het erken dat sy haar dagboek gebruik het om sekere besonderhede te onthou. 

Simpson het toe versoek dat sy haar dagboek hof toe bring om te bepaal of haar verklaring ooreenstem met die aantekeninge wat sy oorspronklik op die toneel gemaak het.

Slagoffers se verklarings verskil

Dit het ook tydens Donderdag se verrigtinge aan die lig gekom dat die verklarings van die 16-jarige (destyds 14), sy pa en sy broer sin van mekaar verskil. 

Die verdedigingspan het bevraagteken waarom die seun meer as twee maande ná die voorval ’n aparte verklaring afgelê het, waarin hy besonderhede ingesluit het oor wat die beskuldigde na bewering aan hulle gedoen het – besonderhede wat nie in sy pa en broer se verklarings genoem is nie.

Die tiener het  emosioneel geraak terwyl hy getuig het en die hofverrigtinge moes verskeie kere onderbreek word om hom toe te laat om homself te kalmeer. Die landdros het ook aan die seun verduidelik dat die verdedigingspan die reg het om hom vrae te stel en teenstrydighede tussen sy verklaring en dié van sy pa op te klaar.

OFM Nuus/Charné van der Merwe

@ 2025 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.