Central SA
Vrystaatse polisie vra hulp nadat verdagte in bedrogsaak verdwyn─── CHARNÉ VAN DER MERWE 07:58 Sat, 28 Jun 2025

Die Vrystaatse polisie doen ’n beroep op die publiek om te help met die opsporing van ’n verdagte wat gesoek word in verband met ’n bedrogsaak.
Emmanuel Tseliso Matsoso (58) word daarvan beskuldig dat hy ’n man in September 2021 uit R15 000 bedrieg het, sê sers. Mahlomola Kareli, provinsiale polisiewoordvoerder.
“Matsoso het na bewering belowe om werk vir die man se drie kinders by ’n plaaslike myn te verseker.” Die ooreenkoms was dat die man R5 000 per kind sou betaal.
Hy het eers R5 000 betaal en later ’n tweede paaiement van R10 000 aan Matsoso gegee. Nadat hy die volle bedrag ontvang het, het Matsoso na bewering verdwyn. 'n Saak van bedrog is daarna by die Odendaalsrus-polisie aanhangig gemaak.
‘Matsoso het na bewering verdwyn’
Volgens Kareli was die saak voorlopig in November 2024 teruggetrek, maar die Odendaalsrus-landdroshof het sedertdien ’n lasbrief vir Matsoso se inhegtenisneming uitgereik. "Hy het egter ná die uitreiking van die lasbrief spoorloos verdwyn."
Enigiemand wat weet waar Matsoso hom bevind kan 082 372 3347, 071 412 1545 of die Stop Misdaadnommer 08600 10111 bel. Anonieme wenke kan ook gestuur word via die MySAPS-app vanaf ’n slimfoon.
OFM Nuus dg