On Now
Weekends 16:00 - 19:00
All Request Sunday Nikki
NEXT: 19:00 - 20:00 Nuut in Afrikaans with Nikki
Listen Live Streams

Central SA

Dringende vergadering versoek oor Ocean Echo-gebou in Kimberley

───   CHARNÉ VAN DER MERWE 09:43 Sun, 29 Jun 2025

Dringende vergadering versoek oor Ocean Echo-gebou in Kimberley | News Article
Die Ocean Echo-gebou in Kimberley. Foto: DA

’n Gesamentlike komiteevergadering tussen belanghebbendes in die departement van vervoer is versoek om die huur van ’n gebou in die Noord-Kaap te bespoedig.

Die DA in die Noord-Kaap het die provinsiale wetgewer formeel versoek om hierdie vergadering te belê om die huur van die Ocean Echo-gebou te bespoedig. Die departement van vervoer moet ook aanspreeklik gehou word vir vertragings wat die jaarlikse oudituitkoms beïnvloed het, sê Reinette Liebenberg, DA-parlementslid en woordvoerder vir vervoer, veiligheid en skakeling.

Werknemers wat in die departement se huidige gebou werk, het na bewering siek geword weens die vervalle toestand. Van die werknemers het tot soveel as 51 dae siekteverlof geneem.

Liebenberg sê die wetgewer se portefeuljekomitee oor vervoer, veiligheid en skakeling is vandeesweek in kennis gestel dat die departement nege omsendbriewe van die ouditeur-generaal ontvang het.

DA vra planne ná Noord-Kaap se misdaad toeneem | News Article

Reinette Liebenberg. Foto: DA

“Hierdie briewe is uitgereik nadat die departement versuim het om sy jaarlikse finansiële state teen die sperdatum van 31 Mei in te dien.”

Volgens haar beweer die departement dat hulle in Maart vanjaar toegang tot hul kantoor by die Ocean Echo-glasgebou in Kimberley se middestad geweier is nadat hulle nie huur betaal het nie. “Hierdie situasie het ontstaan nadat die departement van werk en arbeid in November 2024 ’n verbodskennisgewing op die gebou uitgereik het weens gesondheids- en veiligheidskwessies.”

Liebenberg erken die ontruiming van die gebou het verstaanbaar bedrywighede ontwrig met amptenare wat na tydelike kantore oor verskillende departemente verskuif is.

‘Departement soek nou regshulp’

“Dit is egter ondenkbaar dat die departement drie maande in die nuwe jaar gewag het om kritieke finansiële en operasionele dokumente in te samel wat vir die OG se oudit benodig word.”

Sy sê die DA is bewus van ’n regsgeding wat deur die departement by die hooggeregshof aanhangig gemaak is. Dit was oorspronklik vir 20 Junie geskeduleer, maar is tot 18 Julie uitgestel.

“Die departement soek nou regshulp teen die verhuurders wat departementele personeel toegang tot die Ocean Echo-gebou geweier het.”

Ten spyte van hierdie regsproses dring Liebenberg daarop aan dat die departement steeds ernstige vrae het om te beantwoord.

‘Departement moet volle verantwoordelikheid aanvaar’

“Daar moet ’n duidelike verduideliking wees waarom gesondheids- en veiligheidsrisiko's wat amptenare raak so lank verwaarloos is.”  

Sy het ook die departement versoek om die huurvoorwaardes te verduidelik oor die voortdurende regsgeskil met die verhuurder.

“Die belangrikste is dat die departement volle verantwoordelikheid moet aanvaar vir sy versuim om finansiële state betyds in te dien en vir die waarskynlike nadelige oudituitkoms wat sal volg.”

Die DA het verklaar dat hy sal voortgaan om te pleit vir die dringende skedulering van ’n gesamentlike vergadering tussen die departement van vervoer, die staande komitee oor openbare rekeninge en die kantoor van die premier weens die erns van die situasie.

“Die departement moet aanspreeklik gehou word vir sy versuim om huurkontrakte behoorlik te bestuur, noodsaaklike dokumentasie te onderhou en openbare fondse verantwoordelik te gebruik.” sê Liebenberg.

OFM Nuus dg

@ 2025 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.