Central SA
‘Die Anties’ is op pad, met verf en hoop─── CHARNÉ VAN DER MERWE 22:53 Sun, 29 Jun 2025

’n Groep vroue wat hulself “Die Anties” noem, sal Maandag (30/6) die pad vat vir ’n reis van 21 dae – met verfkwaste, gebed en ’n kragtige doel om hoop, genesing en kreatiwiteit te bring aan gemeenskappe in nood.
Mariette Beukes en ’n groep dinamiese vroue se 21 dae lange padreis sal hulle deur van Suid-Afrika se stilste en stowwerigste dorpe neem – plekke waar droogtes maande lank voortduur en die onsekerheid die oorhand kry.
Maar dit is presies wat hulle bring: hoop.
Die projek het nie oornag ontstaan nie. Beplanning het reeds in Augustus begin en hoewel baie vroue bygedra het, sal dit vyf vroue wees wat die hele reis saam doen. Nog twee vroue sal by hulle aansluit in Lambertsbaai, vertel Beukes.
Die groep sal verskeie dorpe besoek, insluitend Potchefstroom, Klerksdorp, Delareyville, Vryburg, Hartswater, Griekwastad, Upington, Kenhardt, Nieuwoudtville, Garies, en Lambertsbaai. Van daar af sal hulle die berge oorsteek na Clanwilliam, Calvinia, Williston, Vosburg en Bridgetown, voordat hulle na Pretoria terugkeer.
“Die Anties” se bakkie waarmee hulle reis. Foto: Mariette Beukes
Beukes sê die dorpe is nie lukraak gekies nie, maar deur gebed. “Ek het die Here gevra om vir my te wys watter dorpe Hy wou hê ons moet besoek.”
Wat daarna gevolg het, beskryf sy as niks minder as goddelike rigting nie. “Baie van die dorpe op die reisplan was plekke waar ek nog nooit vantevore was nie. Maar elke keer as ’n dorp bygevoeg is – soos Delareyville – sou iemand van ’n nabygeleë dorp, soos Vryburg, my kontak en vra dat sy ook daar stop.
“In my opinie het die Here vir ons die dorpe gebring wat Hy wou gebruik.”
Vir Beukes het die krag van kuns sowat tien jaar gelede helder geword toe sy voltyds begin klasgee het. “Ek het dit nooit as terapie gesien nie. Maar in my klasse het ongelooflike dinge begin gebeur. Sodra die vroue gesit en begin werk het – of dit nou met verf of klei was – het dinge binne minute begin verander. Gesprekke het ontstaan, stories is gedeel, en ’n gemeenskaplike stryd het na vore gekom. Jy begin besef ons dra almal dieselfde soort pyn, dieselfde bekommernisse. En dan begin die vroue mekaar help om daardeur te kom.”
Tydens een van die kunsklasse. Foto: Mariette Beukes
Dís toe sy besef dat kuns maar net ’n klein deel van die legkaart is. Die ware krag lê in die verbinding wat dit skep.
Beukes het grootgeword op ’n plaas geleë tussen Hennenman en Kroonstad, en onthou alte goed die droogtes wat hulle met tye ervaar het.
In haar tuisdorp het ’n gebrek aan reën meer beteken as droë velde – skole het soms gesluit, en die hele gemeenskap het by die kerk bymekaargekom om vir verligting te bid. “Dis wanneer jy besef,” sê sy, “dit is nie net die boere wat ly nie – dit is almal.”
Sy bring hoop
Dis hierdie liefde vir die land en sy mense wat haar dryf om iets onsigbaars, maar broodnodigs, aan die vroue te bring wat sy gaan ontmoet: hoop.
“Wanneer dit nie reën nie, is daar niks wat hulle self kan doen nie. Hulle kan nie reën maak nie. Net die Here kan dit doen,” sê sy. “Ek gaan soontoe om net ’n bietjie bemoediging te bring. Om vir hulle te wys daar is vroue wat hulle sien.”
Een van die kunswerke. Foto: Mariette Beukes
Tydens die reis gaan sy en haar span kreatiewe werksessies aanbied met fokus op gemengde media. Tegnieke is vir Beukes belangrik – veral wanneer dit by verf kom.
“Ons wil almal dinge mooi maak, van meubels tot materiaal, selfs blikke,” sê sy. “Die doel is om hierdie vroue toe te rus met kunsvaardighede wat hulle kan gebruik om hul omgewings te verander en hul gemoed te lig. “Ons gaan allerhande verftegnieke doen wat die dames kan gebruik om hulself en ander te inspireer.”
Op die vraag wat haar geïnspireer het om so ’n veeleisende reis aan te pak, sê Beukes hoewel sy in die stad woon, is sy ’n swerwer in murg en been. “Ek voel gereeld hoe die stad my begin vasdruk. Elke nou en dan moet ek net weer die pad vat – uit in die platteland, die oop ruimtes sien en die vryheid voel. Dis hoekom ek dit doen.”
Garies is een van die dorpe wat besoek word. Foto: Mariette Beukes
Beukes beklemtoon dat hierdie projek nie oor haar of enige persoon gaan nie. “Dis oor vroue wat ander vroue wil help.”
En só is “Die Anties” gebore. “Ek’s ’n tannie, jy’s ’n tannie, jou ma’s ’n tannie – ons is almal tannies. Enigiemand kan ’n tannie wees. Enige iemand kan ’n verskil maak.”
“Die Anties” het ’n Facebook-blad waar hulle hul 21-dae lange reis daagliks dokumenteer — as jy hul reise wil volg, maak seker dat jy die blad gaan volg.