Central SA
Kuruman Mall-rowers nog op vrye voet─── CHARNÉ VAN DER MERWE 10:48 Thu, 03 Jul 2025

Die polisie in die Noord-Kaap vra mense moet met inligting help nadat rowers op ’n inkopiesentrum toegeslaan het.
Vier verdagtes het Woensdag (2/7) die Kuruman Mall binnegegaan en met dreigemente van geweld ’n kassier gedwing om ’n onbekende bedrag geld te oorhandig, sê sers. Timothy Sam, provinsiale polisiewoordvoerder.
“Die verdagtes het probeer om toegang tot die winkel se kontantkantoor te kry, maar was onsuksesvol danksy … sekuriteitsmaatreëls.”
In ’n video, wat wyd op sosiale media gedeel is, haal een van die verdagtes ’n geweer uit wat hy onder sy baadjie weggesteek het, en dreig mense in die verbygang. Voetgangers en sekuriteitspersoneel het van die verdagte probeer vlug.
Volgens Sam het die verdagtes van die toneel gevlug. Niemand is in die voorval beseer nie.
Cornel Papenfus, ’n verteenwoordiger van Kuruman Mall se hoofkantoor, beskryf die voorval as ’n geïsoleerde geval en beklemtoon dat sulke voorvalle skaars is.
“Ons huurders en die publiek is ons topprioriteit, en hul veiligheid is van die uiterste belang vir ons. Wanneer so iets gebeur, herevalueer ons alles van nuuts af om maniere te identifiseer waarop ons ons sekuriteit kan versterk en veiligheidsmaatreëls kan verbeter.”
Sy sê Kuruman se middedorp het die afgelope paar jaar ’n merkbare afname ervaar, met ’n toename in kriminele aktiwiteite, veral rooftogte.
Die verdagte voertuig. Foto: SAPD
“Ons het nog altyd geweet dat dit ’n hoëverkeersgebied is, en daarom neem ons ekstra sorg om die strate, parkeerareas en enige potensiële risikosones te beveilig.”
Die polisie doen ’n beroep op enigiemand wat die voorval gesien het of kennis dra van die verdagtes om na vore te kom.
“Ondersoekers het sedertdien alle beskikbare hulpbronne geaktiveer in hul pogings om die verdagtes op te spoor, wat na bewering in ’n wit Nissan Micra sonder nommerplate gevlug het.
Enigiemand met inligting wat met die ondersoek kan help, word versoek om kapt. Justice Taea by 082 495 4679 of 072 516 4597 te nader of Stop Misdaad by 08600 10111.
Alle inligting sal met die strengste vertroulikheid hanteer word.
OFM Nuus cg