Central SA
Lady ’n waardige opvolger vir Benji by Kroonstad se honde-eenheid─── 09:37 Fri, 04 Jul 2025

Die Vrystaatse polisie verwelkom met trots ’n nuwe, viervoetige beampte in sy geledere: ’n biologiese speurhond, genaamd Lady.
Dié tweejarige Belgiese Malinois is nou amptelik deel van die Kroonstadse honde-eenheid as ’n volledig opgeleide hond wat biologiese vloeistowwe kan opspoor, sê kapt. Lorraine Earle, Vrystaatse polisiewoordvoerder.
Lady volg in die groot spore van Benji, die legendariese wit-en-bruin borderkollie met helderblou oë wat tien jaar lank diens in die Vrystaat gelewer het. Benji het bekendheid verwerf vir sy vermoë om selfs die kleinste spore van bloed of semen op misdaadtonele op te spoor.
In sommige sake was Benji se werk die enigste manier waarop ondersoekbeamptes DNS-bewyse kon bekom, bewyse wat tot suksesvolle skuldigbevindings vir onder meer moord en verkragting gelei het.
Wyle Benjy se spore lê diep in die Vrystaatse grond. Foto: SAPD
Benji se kundigheid het selfs internasionaal erkenning gekry, sê Earle. Hy en sy hanteerder, sers. Leon Strydom, is op ’n keer na Eswatini ontbied, waar hulle gehelp het om ’n saak op te los waarin ’n polisiebeampte ’n kollega vermoor en versteek het. Danksy Benji het geregtigheid geskied.
Benji was oorspronklik ’n geskenk van Strydom se dogters, ’n agt weke oue hondjie wat later een van die polisie se betroubaarste speurhonde geword het. In Oktober 2023 is klierkanker by Benji gediagnoseer en het hy die reënboogbrug oogesteek.
Nalatenskap leef voort
“Hy was my kollega, my kind, my vriend,” sê Strydom. “Hy het gevaarlike misdadigers uit ons gemeenskappe gehaal en ’n verskil gemaak, veral in sake oor kinders.”
Strydom was vasbeslote om Benji se nalatenskap voort te sit; daarom het hy in Oktober begin soek na ’n waardige opvolger. Danksy ruim steun van die Kroonstad-gemeenskap het hy Lady gevind. Sy is aan die polisiediens geskenk en het in Junie haar opleiding as biologiese speurhond voltooi.
Met Lady aan sy sy is Strydom gereed om die stryd teen ernstige misdaad voort te sit, sê Earle. “Saam sal hulle Benji se nalatenskap eer en sorg dat geregtigheid geskied, een reukspoor op ’n slag.”
OFM Nuus mc