Central SA
Bibberkoue oor veral Vrystaat verwag─── 15:31 Fri, 04 Jul 2025

Terwyl Suid-Afrikaners probeer kop bo serpe hou en voorberei vir ’n reeks koue fronte vandeesmaand, swoeg en sweet Europeërs in ’n meedoënlose hittegolf.
Dis ’n skerp herinneringe aan die uiteenlopende seisoenale uiterstes wat verskillende dele van die wêreld ervaar, soms gelyktydig.
Die Suid-Afrikaanse Weerdiens het ’n waarskuwing uitgereik oor ysige weer wat na verwagting veral die Vrystaat hierdie naweek sal teister en tot Woensdag (9/7) sal voortduur. Dagtemperature sal na verwagting slegs 12 °C bereik.
Muneiwa Singo, weervoorspeller, sê koue toestande sal tot Woensdag voortduur, met effense verligting wat eers vanaf Donderdag verwag word. Sommige gebiede naby die Lesotho-grens kan ook geïsoleerde buie en selfs sneeu beleef.
“Maksimum temperature sal dan tussen 12 °C en 19 °C wissel. Geïsoleerde buie en donderbuie word ook Sondag verwag, veral oor die Suid-Vrystaat en langs die Lesotho-grens,” het Singo aan SABC News gesê.
Singo belemtoon die belangrikheid om voor te berei vir die koue toestande. “Ons raai die publiek aan om warm te bly en langdurige blootstelling aan die koue te beperk. Boere moet ekstra sorg dra om klein diere, groente en ander kwesbare produkte te beskerm.”
Die bibberweer is deel van ’n breër weerstelsel wat ander provinsies raak. Verspreide buie word ook voorspel oor Gauteng, Mpumalanga en dele van KwaZulu-Natal. Intussen waarsku die weerdiens ook oor die moontlikheid van sneeuval oor die Drakensberge in KwaZulu-Natal.
Europa het te kampe met die teenoorgestelde uitdaging: gevaarlike hoë temperature. Lande soos Portugal, Spanje, Italië en Griekeland rapporteer uiterste temperature van ver bo 40 °C, wat gesondheidswaarskuwings en hitteverwante noodmaatreëls tot gevolg het.
“Dit gaan nie meer oor of ons ’n hittegolf gaan hê nie, maar hoeveel ons vanjaar gaan ervaar en hoe lank hulle gaan duur,” het Marisol Yglesias Gonzalez, tegniese beampte vir klimaatsverandering en gesondheid by die WGO in Bonn, aan politico.eu gesê.
WMO, EXTREME HEAT GRIPS ALL EUROPE 3 JUNE
— Peter D Carter (@PCarterClimate) July 4, 2025
Early, extreme, prolonged heat (started 20 June)
across all Europe
Also heat causing elevated toxic air pollution throughout Europe
This is no way to live. This is at a surface heating is +1.4°C, and the big economy governments have… pic.twitter.com/AJZ5fPq0wL
Stede is veral kwesbaar waar hittegolwe druk plaas op gesondheidsorgstelsels, kragnetwerke en die bejaarde bevolking.
Hoewel hierdie seisoenale uiterstes niks nuuts is nie, maak klimaatsverandering dit hewiger en meer gereeld, sê kenners. Winters in Suider-Afrika word wisselvalliger, met skerper koue periodes, terwyl Europese somers langer, warmer en gevaarliker word.
OFM Nuus cg