Central SA
Ontevrede inwoners wil Kimberley tot stilstand dwing─── CHARNÉ VAN DER MERWE 11:36 Tue, 08 Jul 2025

Terwyl openbare frustrasie steeds toeneem oor swak dienslewering in Kimberley beplan die Kimberley-aksiegroep om die Diamantstad komende Maandag (14/7) tot stilstand te dwing.
Die optrede spruit direk uit die langdurige ontevredenheid onder inwoners wat voel dat hul stemme te lank geïgnoreer is.
Die sogenaamde “shutdown” in Kimberley word deur die Kimberley-aksiegroep en ander belanghebbendes gelei.
Die groep doen ’n beroep op alle sakeondernemings, werkers en inwoners om hulle by die vreedsame protesoptrede aan te sluit en so dringende verandering in die bedryf van die Sol Plaatje-munisipaliteit te eis, sê Kagiso “Boyce” Makodi, wat die Kimberley-aksiegroep verteenwoordig.
Volgens die organiseerders stort die Diamantstad in duie weens onbevoegdheid, gebrekkige infrastruktuur, swak dienslewering en leiers wat meen dat hulle nie aan die mense verantwoordbaar is nie.
“Ons is keelvol vir korrupsie, die hoë werkloosheidsyfer, onbekostigbare tariewe en die algehele gebrek aan dringendheid onder diegene in beheer. Hierdie optrede gaan nie oor politiek nie – dit gaan oor oorlewing. Ons menswaardigheid word elke dag vertrap terwyl die stad tot niet gaan,” sê Makodi.
Die groep eis onder meer die verwydering van die munisipale bestuurder en direkteure, die ontbinding van die Sol Plaatje-raad, die formalisering van informele nedersettings en billike toegang tot geleenthede vir plaaslike inwoners. Hulle rig ook ’n oproep vir die onmiddellike verwydering van die speaker van die raad, Dipuo Peters.
Die stilstand is vir die toekoms van Kimberley
Makodi sê ondernemings word versoek om hul deure vir ’n paar uur te sluit in solidariteit met die protes en om werknemers toe te laat om daaraan deel te neem.
Die aksiegroep beklemtoon dat dit kollektiewe optrede is – nie deur enige politieke party nie, maar vir Kimberley se toekoms.
Vir meer inligting kan die Kimberley-aksiegroep gekontak word by kbyactiongroup@gmail.com of 064 110 7453.