Central SA
Laat weet ons as jou vee gesteel is, sê Noord-Kaapse polisie─── CHARNÉ VAN DER MERWE 11:59 Tue, 08 Jul 2025

Boere in die Noord-Kaap wat deurgeloop het onder veediefstal of te make het met die onverklaarbare verdwyning van vee, word versoek om die Noord-Kaapse polisie te kontak of te besoek.
Dit volg op die inhegtenisneming van vier verdagtes wat in besit van gesteelde vee ter waarde van duisende rande betrap is.
Die verdagtes, tussen 16 en 37 jaar oud, sal binnekort in die hof verskyn nadat hulle Maandag (7/7) in Pampierstad in hegtenis geneem is toe die polisie ’n voertuig opgemerk het wat ooreenstem met die beskrywing van ’n voertuig wat glo ’n geslagte koei vervoer het, sê sers. Molefi Shemane, provinsiale polisiewoordvoerder.
“Die vinnige reaksie van lede van die hoofwegpatrollie-eenheid van Hartswater op inligting oor moontlike veediefstal by ’n geïdentifiseerde plek, het gelei tot die inhegtenisneming van die verdagtes.”
Volgens Shemane het een van die verdagtes gevlug nadat die polisie die voertuig voorgekeer het. Die polisie het wel die ander vier verdagtes in die voertuig vasgetrek.
Die verdagte motor. Foto SAPD
Volgens Shemane is die karkas van ’n vermoedelik gesteelde koei ter waarde van R12 000 by die voertuig gevind.
“Daar is ook beslag gelê op die Polo Vivo-sedan, aangesien dit gebruik is met die pleeg van die misdryf.”
Enigiemand wat beeste vermis, word versoek om die polisie se Stop Misdaadnommer, 08600 10111, te bel.
Nasionale aanmeldingstelsel
Intussen sê dr. Frikkie Maré, uitvoerende hoof van die Rooivleisprodusenteorganisasie (RPO), dat dié liggaam en ander landbouorganisasies met die polisie en Agri Ops saamwerk om veediefstal deur middel van ’n nasionale aanmeldingstelsel vir dié misdaad te bekamp.
Die Earth Ranger-platform hanteer en verwerk inligting wat verskaf word om te verseker dat alle besonderhede van deelnemende boere vertroulik gehanteer word, in ooreenstemming met die Wet op die Beskerming van Persoonlike Inligting.
Hoewel die platform sonder die polisie se medewerking bedryf word, werk die RPO nou met die polisie saam in die gebruik daarvan.
Hoe werk die KI-stelsel?
Agt stappe word tydens aanmelding uitgevoer. Die eerste vyf, wat verpligtend is, gaan oor die verskaffing van die naam en kontakbesonderhede van diegene wat geraak word, die provinsie en distrik waar die misdaad plaasgevind het, die polisiekantoor waar dit aangemeld is, en ‘n beskrywing van die misdryf.
Die volgende drie stappe is die GPS-ligging waar die voorval plaasgevind het, spesifieke besonderhede oor hoe die diefstal uitgevoer is en enige ander tersaaklike inligting.
Die RPO beklemtoon dat hierdie stelsel nie net help om veediefstal vinniger aan te meld nie, maar ook ’n waardevolle databasis vir wetstoepassingsagentskappe help skep. Die doel is om die polisie te ondersteun in hul ondersoeke en om misdaadtendense beter te verstaan.
Boere en inwoners kan enige voorval van veediefstal of verwante misdaad onmiddellik per WhatsApp by 071 515 2011 aanmeld.