On Now
Weekends 06:00 - 09:00
Weekend Breakfast Gerben
Show Background
NEXT: 09:00 - 12:00 The Central SA Top 30 with Laurika
Listen Live Streams

Central SA

Gemeenskap in skok nadat tiener sterf ná beweerde brandstigting deur ma

───   CHARNÉ VAN DER MERWE 12:59 Tue, 08 Jul 2025

Gemeenskap in skok nadat tiener sterf ná beweerde brandstigting deur ma | News Article
Serena de Sousa (17). Foto verskaf

Nog geen begrafnisreëlings is getref vir die jong meisie van Welkom wat gesterf het nadat sy ernstige brandwonde opgedoen het nadat haar ma glo petrol op hul albei uitgegooi en hulle toe in hul huis aan die brand gesteek het nie.

Serena de Sousa (17) is ernstig beseer en het tweedegraadse brandwonde aan meer as 60% van haar liggaam opgedoen. Sy het Vrydag (4/7) in Mediclinic Welkom aan haar beserings beswyk.

Serena is op 18 Junie in die intensiewe-sorgeenheid opgeneem met brandwonde aan haar gesig, hande en bene. Sy het longontsteking opgedoen en dokters het gesukkel om haar liggaamstemperatuur te stabiliseer terwyl sy intensiewe behandeling ondergaan het.

Serena, haar pa, Alberto de Sousa, en haar suster, Kiara. Foto verskaf

Haar ma, Teresa Martins (53), is in die brand dood.

In ’n emosionele huldeblyk het Yaps, ’n vereniging vir jong volwassenes van Portugese afkoms, hul meegevoel met Serena se pa, Alberto de Sousa, en haar suster, Kiara de Sousa, betuig.

“Serena se lig het die lewens van baie aangeraak, en haar nagedagtenis sal vir ewig in die harte bly van diegene wat haar geken en liefgehad het. Sy was ’n gekoesterde individu wie se warmte, vriendelikheid en gees ’n onuitwisbare indruk op haar familie, vriende en gemeenskap gemaak het. Haar verlies word diep gevoel, en ons treur saam terwyl ons die pragtige nalatenskap vier wat sy agter laat,” sê Dinarte Menezes van Yaps.

Hy vra dat mense in hierdie moeilike tyd vir Alberto, Kiara en hul geliefdes sal bid.

Dit ly geen twyfel dat Serena se afwesigheid diep gevoel sal word deur haar familie, vriende, skoolmaats en die breër gemeenskap nie, sê Micaela de Gouveia, Yaps-voorsitter.

Serena, ’n matriekleerling aan die St Dominic's College, het in April haar matriekafskeid bygewoon. Dit was ’n aand wat as ’n hoogtepunt in haar laaste skooljaar uitgestaan het, sê De Gouveia.

OFM Nuus/Charne van der Merwe cg

@ 2025 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.