Central SA
Sekssake dien in Bloemfontein-hof─── ZENANDE MPAME 15:04 Tue, 08 Jul 2025

’n 64-jarige verdagte sal Vrydag (11/7) vir ’n formele borgtogaansoek in die Bloemfonteinse landdroshof verskyn in verband met verskeie aanklagte van seksuele misdrywe, insluitend voorvalle met drie minderjariges.
Die polisie in die Vrystaat se ondersoek na die voorvalle duur voort en nog inhegtenisnemings kan volg. Verdere getuieverklarings is ingesamel en bykomende slagoffers geïdentifiseer.
Die klaer het op Maandag (30/6) Junie verskeie voorvalle van seksuele aanranding sedert Mei vanjaar by die Navalsig-polisiekantoor aangemeld.
Volgens die polisie het die verdagte se inhegtenisneming op ’n deeglike ondersoek na die bewerings van seksuele misbruik gevolg.
‘Die verdagte sal Vrydag vir ’n formele borgtogaansoek verskyn’
“Die verdagte (64) sal Vrydag vir ’n formele borgtogaansoek verskyn,” het Lorraine Earle, Vrystaatse polisiewoordvoerder, gesê. Hy het nog nie op die aanklagte gepleit nie en kan dus nie geïdentifiseer word nie.
“Namate die ondersoek gevorder het, is nog slagoffers geïdentifiseer, insluitend drie minderjariges tussen die ouderdom van 12 en 15 jaar. Die kinders is in ’n plek van veiligheid in die stad uitgeplaas.”
Die saak word ondersoek deur die Parkweg-polisiekantoor se eenheid vir gesinsgeweld, kinderbeskerming en seksuele misdrywe en die ondersoek duur voort, het sy gesê.
Intussen sal vier verdagtes Dinsdag (8/7) weer op aanklagte van mensehandel, verkragting en poging tot moord in die Bloemfonteinse landdroshof verskyn. Die slagoffer (26) in dié saak het glo in Julie 2022 ’n Facebook-advertensie gesien vir werk as kroegdame by ’n klub vir mans in Ferreira, Bloemfontein. Sy het met die eienaar gesels en reëlings is getref om haar van Ventersburg na Bloemfontein te bring.
’n Paar dae later is sy deur die klubeienaar en sy bestuurder na Bloemfontein gebring. Met haar aankoms is sy na bewering na die huis van een van die beskuldigdes geneem, waar sy na bewering bedwelm, seksueel aangerand en herhaaldelik deur ’n groep mans verkrag is.
Twee mans van onderskeidelik 56 en 59 jaar oud is op R3 000-borgtog elk vrygelaat, terwyl ’n vrou (29) steeds in aanhouding is. Een van die mans is ’n voormalige adjudant-offisier in die Valke waar hy tot sy aftrede in 2019 gedien het.
Die vierde verdagte is deur die Valke in Secunda in hegtenis geneem en het Woensdag (2/7) vir die eerste keer in die Bloemfonteinse landdroshof verskyn.