Central SA
Parkeerterreinmoord: Beskuldiges vra Donderdag weer borgtog─── CHARNÉ VAN DER MERWE 12:00 Wed, 09 Jul 2025

Die twee beskuldigdes in die Noordwes-parkeerterreinmoord sal Donderdag (10/7) weer om borgtog aansoek doen.
Onke Mbongo en Gift Mhlanga, wat teregstaan weens die moord op George Koster (68) en sy vrou, Wilma (66), het Woensdag (9/7) in die Rustenburg-landdroshof verskyn, sê Sivenathi Gunya, provinsiale woordvoerder van die Nasionale Vervolgingsgesag (NVG).
Hulle word daarvan beskuldig dat hulle die Koster-egpaar Saterdag 14 Junie noodlottig in die Platinum Square-winkelsentrum se parkeerterrein in Rustenburg geskiet het. Hulle word ook van regsverydeling aangekla omdat hulle na bewering in ’n poging om hul inhegtenisneming te ontduik, probeer het om hul voertuig weg te steek nadat hulle van die toneel gevlug het.
Die Kosters se voertuig op die toneel. Foto: SAPD
Mbongo en Mhlanga het ook op 3 Julie in die hof verskyn. Die ondersoekbeampte, lt.kol. Patric Murunwa, het toe getuig dat die beskuldigdes in ’n wit Kia die parkeerterrein binnegery en langs die Koster-egpaar se silwer Jeep geparkeer het.
Volgens Gunya het Mbongo die Kia se deur oopgemaak en dit blykbaar teen die Jeep gestamp. George het glo uitgeklim om na die skade te kyk, waarna ’n onderonsie tussen hulle ontstaan het.
“Mbongo het Koster eers met ’n vuurwapen doodgeskiet, waarna Mhlanga, wat bestuur het, agteruit begin ry het,” sê Gunya. “Wilma het na bewering die Kia se linkeragterruit met ’n knoppie gebreek, waarna Mbongo haar ook geskiet het.”
LEES OOK: Twee vas ná moord op Noordwes-egpaar
Die paartjie is albei op die toneel dood.
Gunya sê die beskuldigdes het in hul borgtogaansoek aangevoer dat hulle minderjarige kinders het wat finansieel van hulle afhanklik is, geen vorige veroordelings of hangende sake teen hulle het nie, en ten volle met die polisie saamgewerk het. “Hulle het ook aangevoer dat hulle nie met getuies of bewyse in die saak sou inmeng nie, en ook nie sou vlug as borgtog toegestaan word nie.”
Mbongo en Mhlanga is op 17 Junie in hegtenis geneem nadat die polisie se misdaadintelligensie-eenheid opgetree het op grond van inligting wat van, onder andere, lede van die gemeenskap ontvang is.
OFM Nuus mvh