On Now
Weekends 06:00 - 09:00
Weekend Breakfast Gerben
Show Background
NEXT: 09:00 - 12:00 The Central SA Top 30 with Laurika
Listen Live Streams

Central SA

Ondersoek gevra na miljarde se onwettige besteding deur Noord-Kaapse munisipaliteite

───   CHARNÉ VAN DER MERWE 12:19 Thu, 10 Jul 2025

Ondersoek gevra na miljarde se onwettige besteding deur Noord-Kaapse munisipaliteite | News Article
Foto ter illustrasie: iStock

Oproepe vir ’n ondersoek neem toe nadat dit aan die lig gekom het dat miljarde rande onwettig deur munisipaliteite in die Noord-Kaap bestee is.

Die grootste sondaars blyk die Sol Plaatje-munisipaliteit (Galeshewe en Kimberley) en Emthanjeni (De Aar) te wees.

AfriForum doen ’n beroep op die Noord-Kaapse Provinsiale Wetgewer om ’n ondersoek in ooreenstemming met die Wet op Munisipale Finansiële Bestuur te loods na die swak finansiële toestand van die provinsie se munisipaliteite, sê Thomas van Dalen, AfriForum se streekhoof in die Noord-Kaap.

Foto: solplaatje.org

“Volgens die ouditeur-generaal se 2023-’24-verslag het Noord-Kaapse munisipaliteite in dié boekjaar R3,6 miljard se onreëlmatige uitgawes aangegaan. AfriForum doen ook ’n oproep om dissiplinêre stappe teen diegene wat verantwoordelik is vir hierdie massiewe finansiële verlies.”

Volgens Van Dalen het Bentley Vass, die Noord-Kaapse LUR vir samewerkende regering, menslike nedersettings en tradisionele sake, op ’n media-inligtingsessie in reaksie op die bevindinge gesê hy is steeds vol vertroue dat die munisipaliteite se finansies sal verbeter.

Foto: Facebook

“AfriForum kan geen rede sien vir Vass se ongegronde optimisme nie, aangesien die munisipaliteite in die vorige boekjaar (2022-’23) R3,4 miljard se onreëlmatige uitgawes aangeteken het, en geen stappe is nog gedoen teen diegene wat daarvoor verantwoordelik is nie,” sê Van Dalen. 

Hy sê die verslag identifiseer die Sol Plaatje-munisipaliteit en die Emthanjeni-munisipaliteit as die ergste oortreders.

Rant van bankrotskap

“Dit beklemtoon dat miljoene verlore gegaan het as gevolg van swak kontrakbestuur en selfverryking. By die Emthanjeni-munisipaliteit alleen het R1,5 miljoen verlore gegaan deur betalings in verkeerde bankrekeninge.”

Van Dalen sê die Noord-Kaapse munisipaliteite is in ’n ernstige finansiële krisis en wankel op die rant van bankrotskap. 

“Hierdie situasie vereis meer as net verskonings en leë beloftes – dit vereis dringende optrede en tasbare resultate. Die provinsiale regering moet ophou om verskonings te maak en verantwoordelikheid begin aanvaar.”

OFM Nuus mvh

@ 2025 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.