Central SA
Verdagtes verskyn Maandag in Bloemfontein-saak oor mensehandel, poging tot moord─── ZENANDE MPAME 06:00 Fri, 11 Jul 2025

Vier verdagtes wat in hegtenis geneem is op aanklagte van mensehandel, verkragting en poging tot moord, sal Maandag (14/7) in die Bloemfonteinse landdroshof verskyn.
Die saak is reeds op Dinsdag (8/7) uitgestel nadat daar vervoerprobleme was en Alicha Brits (29) nie betyds van Kimberley, waar sy in aanhouding is, by die hof kon uitkom nie.
Rian Mulder (56) en Raoul Hartman (59) is tydens hul tweede hofverskyning elk op R3 000 borgtog vrygelaat. Hartman is ’n voormalige speurder van die Valke wat in 2019 uit diens getree het. Volgens Mojalefa Senokoatsane, woordvoerder van die Nasionale Vervolgingsgesag (NVG) in die Vrystaat, is Brits se aansoek om borgtog geweier weens hangende sake teen haar.
Valke-amptenare tydens die inhegtenisneming op Maandag, 30 Junie. Foto verskaf/Vrystaat Valke
’n Derde beskuldigde, wat deur die Valke in Secunda in hegtenis geneem is, het Dinsdag sy eerste verskyning in die hof gemaak.
Brits staar uitsluitlik aanklagte van mensehandel in die gesig, terwyl haar medebeskuldigdes aangekla word van verkragting, poging tot moord en mensehandel.
Al vier verdagtes sal Maandag (11/7) weer in die hof verskyn. Volgens die klagte het die 26-jarige slagoffer in Julie 2022 op Facebook op ’n advertensie afgekom vir ’n werk as kroegmeisie by ’n klub in Ferreira, Bloemfontein.
‘Sy het daarin geslaag om deur ’n badkamervenster te ontsnap’
Sy het met die eienaar van die klub gesels en daar is gereël dat sy van Ventersburg na Bloemfontein vervoer word. ’n Paar dae later is sy deur die klub se eienaar en sy bestuurder na Bloemfontein gebring.
By aankoms is sy na die huis van een van die beskuldigdes geneem, waar sy glo onder dwelms gehou, seksueel aangerand en herhaaldelik deur verskeie mans verkrag is. Sy beweer verder dat een van die verdagtes foto’s van die aanval geneem het.
Sy het daarin geslaag om deur ’n badkamervenster te ontsnap en het hulp gaan soek. “’n Saak is by ’n nabygeleë polisiekantoor geopen en later na die Valke oorgeplaas,” sê Fikiswa Matoti, woordvoerder van die Valke in die Vrystaat.
Die soektog na die vierde verdagte duur voort.
Maj. Gen. Mokgadi Bokaba, hoof van die Valke in die Vrystaat, het die speurders geloof vir hul vasberadenheid om geregtigheid te laat seëvier, ongeag wie by die misdaad betrokke is.
Tydens die bekendmaking van die eerste kwartaalverslag vir die 2025/26-boekjaar (April tot Junie 2025) is onthul dat die Eenheid vir Gesinsgeweld, Kinderbeskerming en Seksuele Misdrywe in die Vrystaat in dié kwartaal 1 112 sake van seksuele misdrywe hanteer het.
OFM Nuus/Zenande Mpame mvh/cg