On Now
Weekends 06:00 - 09:00
Weekend Breakfast Gerben
Show Background
NEXT: 09:00 - 12:00 The Central SA Top 30 with Laurika
Listen Live Streams

Central SA

Vrystaatse regering het week om te sê oor haglike R708-pad

───   CHARNÉ VAN DER MERWE 08:57 Fri, 11 Jul 2025

Vrystaatse regering het week om te sê oor haglike R708-pad | News Article
Die Clocolan-pad was Donderdag gesluit. Foto: Andries van Rooyen

Ná maande van onbeantwoorde briewe en toenemende frustrasie oor die verslegtende toestand van ’n belangrike Vrystaatse pad, het inwoners nou formeel ’n memorandum aan die Vrystaatse regering oorhandig.

Die vreedsame protes, waarin die R708-pad tussen Clocolan en Marquard Donderdag (10/7) gesluit is, was daarop gemik om dringende ingryping en verantwoordbaarheid te eis. Dit het gelei tot ’n verbintenis van die owerhede om teen volgende Vrydag (18/7) terugvoering te gee.

Die gemeenskap van Clocolan, keelvol vir die regering se voortgesette stilswye oor die gevaarlike pad, het ferm standpunt ingeneem deur die pad Donderdag (10/7) te sluit nadat talle pleidooie vir die herstel daarvan onbeantwoord gelaat is.

Volgens Andries van Rooyen, voorsitter van die Clocolan-boerevereniging, het dié vereniging, die plaaslike taxivereniging en ander belanghebbendes sake in eie hande geneem omdat hulle geen ander keuse gehad het as om met die sluiting voort te gaan nie.

Die memorandum. Foto: Andries van Rooyen

“Ná talle pogings om met die kantoor van die LUR vir paaie en vervoer, Jabu Mbalula, te kommunikeer, het ons geen ander keuse gehad as om tot optrede oor te gaan nie.”

Phomolo Makappa, ’n afgevaardigde van die departement, het die skare toegespreek wat vreedsaam byeen was op die R708. ’n Memorandum is amptelik aan hom oorhandig.

“Ons het hom vrae gevra waarop hy nou antwoorde van die departement se kant moet gee. Daardie formele antwoorde word teen volgende Vrydag verwag.”

Van Rooyen sê die doel was om sleutelamptenare in die Vrystaatse regering te dwing om self die pad aan te durf om die haglike toestand eerstehands te ervaar. Die memorandum is halfpad tussen Clocolan en Marquard oorhandig.

“Ons wil graag weet watter stappe rakende die pad gedoen gaan word, en ons eis deursigtigheid oor wat met die kontrak gebeur.”

OFM Nuus het vroeër berig dat die verenigings se pogings om die probleem op te los herhaaldelik geïgnoreer is. “Ons het ’n formele brief aan Mbalula voorgelê waarin genoem word dat al ons pogings om die departement te betrek óf met stilte begroet is óf onprofessioneel gehanteer is,” het Van Rooyen gesê.

Hy het bygevoeg dat ’n geskeduleerde vergadering vir Dinsdag (7/8) om dringende veiligheidskwessies te bespreek, geïgnoreer is, en ’n vroeëre poging om die departement Maandag (7/7) te betrek, reguit deur ’n amptenaar van die hand gewys is.

Die DA het sy steun uitgespreek teenoor die gemeenskapsbetoging oor die verswakkende R708-pad tussen Clocolan en Marquard, en het Mbalula versoek om skriftelike, tydsgebonde reaksies op die gemeenskap se eise te verskaf, sê Jose Coetzee, DA raadslid van die Setsoto munisipaliteit.

“Die departement moet hom verbind tot meetbare vordering en ophou om aanspreeklikheid te ontduik.”

Boere- en taxiverenigings van Clocolan sluit R708 onbepaald oor regering swyg | News Article

Die Marquard-Clocolan-pad. Foto: Andries van Rooyen

Volgens Coetzee is onlangse bewerings deur die departement, dat ’n kontrakteur reeds op die perseel is om herstelwerk te doen, misleidend is en, selfs al is dit waar, skiet dit ver tekort aan behoorlike padrehabilitasie. 

“Die DA het ook die departement se bewering gekritiseer dat belanghebbendes ’n vorige vergadering verwerp het en gesê dat die vergadering ’n gebrek aan LUR-betrokkenheid en enige werklike verbintenisse gehad het.”

Tydens die vreedsame betoging is ’n formele memorandum aan die waarnemende Hoofdirekteur van Vervoerinfrastruktuur oorhandig, waarin vier kernvereistes uiteengesit word: 

  • onmiddellike bewys van betaling aan die kontrakteur, 
  • ’n openbare vordering- en betalingskedule, 
  • ’n bevestigde plan vir gereelde belanghebberbetrokkenheid, en 
  • ’n verbintenis om die oorhandiging van die R708 aan Sanral vir langtermyn-instandhouding te ondersoek.

OFM Nuus/Charne van der Merwe cg

@ 2025 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.