Central SA
Rustenburg-egpaar: Beweerde moordenaars gaan aansoek om borgtog doen─── CHARNÉ VAN DER MERWE 07:00 Tue, 15 Jul 2025

Die beskuldigdes in ’n moordsaak in Noordwes sal Dinsdag (15/7) weer in die hof verskyn.
Onke Mbongo en Gift Mhlanga wat aangekla word vir die moord op George Koster (68) en sy vrou, Wilma (66), het Vrydag (11/7) in die Rustenburg se landdroshof verskyn, sê Sivenathi Gunya, NVG-woordvoerder.
Hulle word daarvan aangekla dat hulle die Koster-egpaar op 14 Junie in die Platinum Square-winkelsentrum se parkeerterrein in Rustenburg doodgeskiet het. Hulle word ook aangekla van regsverydeling omdat hulle na bewering probeer het om hul voertuig weg te steek nadat hulle gevlug het.
Mbongo en Mhlanga is op 17 Junie in hegtenis geneem nadat die polisie se misdaadintelligensie-eenheid op inligting van die gemeenskap gereageer het.
Die Kosters se voertuig op die toneel. Foto: SAPD
Intussen het die egpaar se oudste seun, William, die gemeenskap bedank. “Dit was ’n hartseer tyd vir ons familie met die verlies van ons ouers, maar ek is oorweldig deur die ondersteuning en vriendelikheid van hierdie dorp.”
Hy sê dit sal ’n lang reis vir hulle wees en genesing sal waarskynlik vir ewig duur. “Baie van julle het my persoonlik genader en ek vra om verskoning as ek nie altyd onmiddellik gereageer het nie.”
Op 3 Julie het lt.kol. Patrick Murunwa, ondersoekbeampte, getuig dat die beskuldigdes in ’n wit Kia die parkeerterrein binne gery en langs die Koster-egpaar se silwer Jeep geparkeer het.
Volgens Gunya het Mbongo die Kia se deur oopgemaak en dit blykbaar teen die Jeep geslaan. George het uitgeklim om na die skade te kyk en ’n woordewisseling het ontstaan.
“Mbongo het Koster eers met ’n vuurwapen doodgeskiet waarna Mhlanga in trurat begin ry het,” het Gunya gesê. “Wilma het na bewering die Kia se linkeragterruit gebreek waarna Mbongo haar ook geskiet het.”
Egpaar is albei op toneel dood
Gunya sê die beskuldigdes het in hul borgtogaansoek aangevoer dat hulle minderjarige kinders het wat finansieel van hulle afhanklik is, geen vorige veroordelings of hangende sake teen hulle het nie en ten volle met die polisie saamgewerk het. “Hulle het ook aangevoer dat hulle nie met getuies of bewyse in die saak sou inmeng nie en ook nie sal vlug nie.”
OFM Nuus dg