Central SA
Vioolsdrif-grenspos al weke sonder water─── CHARNÉ VAN DER MERWE 09:34 Sun, 13 Jul 2025

Dringende ingryping word geëis omdat een van Suid-Afrika se belangrikste grensposte al maande sonder enige watervoorsiening is.
Die Vioolsdrif-grenspos langs die Oranjerivier aan die grens met Namibië is reeds langer as ’n maand sonder enige watervoorsiening.
Hierdie ernstige diensleweringstekort wek groot kommer oor basiese menseregte, gesondheid, werkomstandighede en die funksionaliteit van hierdie strategiese fasiliteit, sê TLU SA Noord-Kaap.
Hulle doen nou ’n dringende beroep op die departement van water en sanitasie, die departement van openbare werke en infrastruktuur en plaaslike en provinsiale owerhede om onmiddellik in te gryp.
Belemmer algehele doeltreffendheid van grensbeheer
Ten spyte van die daaglikse teenwoordigheid van grensbeheer en doeaneamptenare is daar geen betroubare toegang tot water nie – nie vir die grenspos self, die personeel of omliggende omgewing nie. Dit stel nie net mense se gesondheid in gevaar nie, maar belemmer ook die algehele doeltreffendheid van grensbeheer.
“Ons praat hier van ’n internasionale grenspos wat ’n spilpunt is vir handel en toerisme tussen Suid Afrika en Namibië,” sê ’n bekommerde bron. “Om werkende personeel vir langer as vier weke sonder water te laat funksioneer is ’n blatante verontagsaming van basiese diensverpligtinge. Dit is nie bloot nalatigheid nie, dit is ’n skending van verantwoordelikheid.”
Tyd vir aksie is nou
Die Vioolsdrif-grenspos dien ook as toegang tot die N7-hoofroete tussen Kaapstad en Windhoek. Die afwesigheid van ’n basiese noodsaaklikheid soos water by so ’n strategiese punt plaas ernstige druk op reeds kwesbare infrastruktuur in afgeleë gebiede.
TLU SA Noord Kaap, namens georganiseerde landbou in die streek, spreek sy ernstige teleurstelling en kommer uit oor die voortdurende versuim van betrokke owerhede om hierdie probleem die hoof te bied. Die grenspersoneel ly onder hierdie omstandighede en die situasie is onvolhoubaar.
“Die status quo is onaanvaarbaar. Geen werknemer behoort sonder basiese geriewe soos water hul pligte te verrig nie en die publiek verdien deursigtigheid en verantwoordbaarheid. Die tyd vir aksie is nou,” sê die landbou-unie.
OFM Nuus dg