Central SA
Kimberley-polisie op bystand voor beplande stilstand─── ZENANDE MPAME 10:12 Mon, 14 Jul 2025

Noord-Kaapse polisie hou bymekaarkomplekke dop vir die beplande stilstand Maandag (14/7) in Kimberley.
Die polisie herinner die publiek daaraan dat geen wetteloosheid of misdaad geduld sal word in die aanloop tot die protesoptrede wat beplan word om Kimberley tot stilstand te bring nie.
Die Kimberley-aksiegroep (KAG) en ander belanghebbendes wil die stad tot stilstand bring om hul frustrasie met swak dienslewering te kenne te gee. Hulle eis die ontslag van die munisipale bestuurder en direkteure, die ontbinding van die Sol Plaatje-raad, die formalisering van informele nedersettings en billike toegang tot geleenthede vir inwoners.
Hulle eis ook dat Dipuo Peters, Sol Plaatje se speaker, onmiddellik van haar amp onthef word.
“Die openbare-ordepolisie van Kimberley is in die Greenpoint-omgewing op die N8 ontplooi om moontlike openbare geweld te keer,” sê Cherelle Ehlers, Noord-Kaapse polisiewoordvoerder. “Motoriste word gemaan om versigtig te wees.
“Onwettige optrede, insluitend saakbeskadiging of die benadeling van individue, sal nie geduld word nie en sal met toepaslike optrede teengestaan word. Enigiemand wat oortree, sal daarvolgens hanteer word.”
Die polisie vra alle deelnemers en inwoners moet die wet gehoorsaam om die veiligheid van alle gemeenskapslede te verseker. “Die polisie sal geen wetteloosheid of misdadige optrede duld nie.”
Die KAG het ’n beroep op alle ondernemings, werkers en inwoners gedoen om hulle by die vreedsame betoging aan te sluit en dringende verandering in die bestuur van die Sol Plaatje-munisipaliteit te eis.
“Ons inwoners is al lank ontevrede en meen hul bekommernisse word geïgnoreer,” sê Boyce Makodi, KAG-woordvoerder. “Ons is moeg vir korrupsie, die hoë werkloosheidsyfer, onbekostigbare tariewe en die gebrek aan dringendheid onder diegene in beheer.
“Dit is nie ’n politieke optrede nie, maar ’n oproep van ’n gemeenskap wat saamstaan om swak leierskap, vervallende infrastruktuur, onbetaalbare dienste en onbeheerde korrupsie teen te staan.”
Die versamelpunte vir die betoging is:
• die R31 by die sirkel waar dit die N8 kruis;
• die kruising van Barkleyweg en Tysonstraat;
• die N8 by die Greenpoint-toegangsweg; en
• die hoek van McDougal- en Oliverweg by die Diamond Pavilion Mall.
Die optog sal eindig by die premier se kantoor oorkant die North Cape Mall, waar ’n memorandum oorhandig sal word.