On Now
Weekdays 18:00 - 19:00
OFM Business Hour Olebogeng
Show Background
NEXT: 19:00 - 22:00 OFM Nights with Ashmund
Listen Live Streams

Central SA

Boedelbedrog: Bloemfonteinse prokureur binnekort weer voor

───   CHARNÉ VAN DER MERWE 13:03 Thu, 17 Jul 2025

Boedelbedrog: Bloemfonteinse prokureur binnekort weer voor | News Article
Elmari Vosloo (47), ’n praktiserende prokureur, het Donderdag weer in die hof voorgekom. Foto: Charné van der Merwe

Die verhoor van ’n Bloemfonteinse prokureur, wat beskuldig word van boedelbedrog, is uitgestel tot 31 Julie.

Elmari Vosloo (47), ’n praktiserende prokureur, het Donderdag (17/7) vir die tweede maal in die plaaslike landdroshof voorgekom.

Haar saak is tot 31 Julie uitgestel vir die hersiening van die inhoud van die dossier, verdere instruksies en ’n moontlike voorverhoorkonferensie toe te laat, sê adv. Allen Simpson, haar regsverteenwoordiger.

Vosloo het na bewering die klaer se boedel – ter waarde van ongeveer R6 miljoen in kontant – van Januarie 2015 tot Julie 2017 bestuur, het ao. Fikiswa Matoti, Valke-woordvoerder, voorheen gesê.

Elmari Vosloo (47). Foto: Charné van der Merwe

“Die geld is na bewering in Vosloo se persoonlike bankrekening gedeponeer in plaas van die vereiste trustrekening. Hierdie wanbestuur het na bewering gelei tot ’n finansiële verlies van ongeveer R3,4 miljoen vir die klaer.”

’n Dagvaarding is op 11 Junie aan Vosloo beteken.

Ondersoeke het aan die lig gebring dat Vosloo gepraktiseer het sonder ’n geldige getrouheidsfondssertifikaat, wat ’n wetlike vereiste vir alle prokureurs is.

Prokureurs beskuldig van sowat R1,4 miljard se verduistering

Oor ’n aantal jare is prokureurs beskuldig daarvan dat hulle sowat R1,4 miljard uit kliënte se trustrekeninge verduister het in 561 aangemelde gevalle, maar volgens The Citizen was daar slegs 59 skuldigbevindings, waarvan net 25 tot gevangenisstraf gelei het.

In die 2023/24-boekjaar het die Padongelukfonds nagenoeg 1 000 klagtes ontvang oor beweerde prokureursbedrog, waarvan 417 vir ondersoek aan die polisie oorhandig is.

OFM Nuus/Charne van der Merwe cg

@ 2025 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.