Central SA
Drie bly agter tralies ná sakeroof in Noordwes─── KEKELETSO MOSEBETSI 09:29 Fri, 18 Jul 2025

Drie verdagtes wat in hegtenis geneem is in verband met ’n gewelddadige rooftog by ’n sakeperseel in Moruleng, Noordwes, bly in aanhouding ná hul hofverskyning.
Joseph Thabang Makgala (52), Lemmy Elias Nku (47) en Sello Gift Khasu (34) het Woensdag (16/7) in die Mogwase-landdroshof verskyn. Hul saak is tot volgende Dinsdag (22/7) uitgestel vir ’n borgtogaansoek.
Die klagte teen die drie spruit uit ’n voorval Donderdagoggend omstreeks 08:00 toe twee voertuie, ’n wit Kia-sedan en ’n wit VW Jetta, opgedaag het terwyl die slagoffer (36) en sy werknemers op sy sakeperseel in Moruleng was.
“Die Kia is gebruik om die ingang van die perseel te versper, terwyl die insittendes van die VW Jetta, almal gewapen, die perseel betree het,” sê lt.kol. Sam Tselanyane, Noordwes-polisiewoordvoerder.
“In albei voertuie was glo vier mans. Hulle het die slagoffer van sy selfoon beroof, geld uit die kasregister geneem en hom gedwing om saam met hulle in ’n voertuig te klim, waarna hulle daar weg is.”
’n Grootskaalse soektog het gevolg. ’n Multidissiplinêre span is op die been gebring, bestaande uit lede van die provinsiale eenheid vir georganiseerde misdaad, speurders van Mogwase en Bojanala Platinum-subdistrik 2 (Rustenburg), die provinsiale en nasionale misdaadintelligensie-eenheid, die bendeondersoekeenheid, taktiese reaksiespan, plaaslike misdaadrekordsentrum en ’n gyselaaronderhandelaar.
Hierdie gesamentlike poging het Saterdag (12/7) tot ’n deurbraak gelei toe die verdagtes in Soweto vasgetrek is. “Met die hulp van die Gautengse polisie en veiligheidsbeamptes is die Jetta by die Protea Glen-winkelsentrum voorgelê en ’n verdagte in hegtenis geneem,” sê Tselanyane.
Daardie aand is nog ’n verdagte by ’n woning in Molapo, Soweto, in hegtenis geneem. Die polisie het ook die Kia opgespoor wat na bewering in die rooftog gebruik is.
Nog ondersoeke het daartoe gelei dat twee ongelisensieerde vuurwapens opgespoor is, wat by ’n familielid versteek was. Die tweede verdagte het die polisie glo na sy ouerhuis sowel as na die familielid se huis geneem, waar ’n Lorcin 9 mm en ’n ander pistool gevind is.
Dié verdagte is in hegtenis geneem en het reeds in die hof in Soweto verskyn op aanklagte wat met vuurwapens verband hou.
Die polisie het as deel van die ondersoek op albei voertuie en vuurwapens beslag gelê.
OFM Nuus