Central SA
Sorgoord-aanranding: Ses kry borgtog, vyf mag gaan werk─── CHARNÉ VAN DER MERWE 14:31 Fri, 18 Jul 2025

Die ses beskuldigdes wat teregstaan op aanklagte van onder meer mishandeling van ’n bejaarde vrou (81) by ’n Vrystaatse versorgingsoord vir bejaardes, is almal op borgtog met voorwaardes vrygelaat.
Hulle moet weet op 18 September in die hof verskyn. Lynette Brummer (64), Anna Fourie (73), Mapaseka Majorobella (35), Nomsa Ngcongwane (55), Ntswaki Mofolo (30) en Puseletso Moloi (33) het Vrydag (18/7) in die Welkom-landdroshof verskyn ná ’n drie dae lange borgtogaansoek.
Die beskuldigdes staan tereg op aanklagte wat voortspruit uit die beweerde aanranding wat plaasgevind het in Silver Village Assisted Living – ’n versorgingsoord in Dagbreek, Welkom.
Fourie, Brummer, Majorobella en Ngcongwane is op 9 Julie in hegtenis geneem en het Dinsdag hul tweede hofverskyning vir ’n formele borgtogaansoek gemaak. Mofolo en Moloi is Maandag ná verdere ondersoeke in die versorgingsoord in hegtenis geneem.
Hulle word aangekla van poging tot moord, aanranding met die opset om ernstig te beseer, ontvoering en oortreding van art. 13 van die Wet op Ouer Persone. Al ses was versorgers by die instelling. Brummer beklee ’n senior pos en is ook ’n aandeelhouer.
Brummer, wat deur ao. Anja Tait, ondersoekbeampte, as die hoofbeskuldigde bestempel word, is op borgtog van R5 000 vrygelaat. As deel van haar borgtogvoorwaardes word sy nie binne 100 m van die versorgingsoord toegelaat nie en moet sy haar paspoort binne ses uur ná haar vrylating indien.
Die ander vyf beskuldigdes is elk op borgtog van R1 000 vrygelaat. Hulle het toestemming gekry om terug te keer werk toe, aangesien die video’s wat op sosiale media versprei word, na bewering nie wys hoe hulle die bejaarde vrou aanrand nie.
Hulle mag egter nie die slagoffer se kamer binnegaan nie. Wanneer die slagoffer hulp nodig het, moet iemand anders aangewys word om haar te help.
Tait het Dinsdag getuig Brummer wat na bewering bewus was dat sy verfilm word, het kwaad geword toe die bejaarde vrou weier om haar medikasie te neem.
Silver Village Assisted Living. Foto: Skermgreep/Google Maps
Brummer het na bewering die slagoffer gevloek, pille in haar mond gedruk, in haar gesig geblaas, haar neus geknyp en op haar gespoeg. Toe die vrou skree, het sy glo met kleefband teruggekeer en dit om die slagoffer se mond en kop gedraai.
Familielede en vriende van die beskuldigdes het sigbare verligting en vreugde uitgespreek nadat die landdros aangekondig het dat hule op borgtog vrygelaat word.
Een van die beskuldigdes se kinders wat verkies om anoniem te bly, het aan OFM Nuus gesê hulle is verlig dat hul ma eindelik op borgtog vrygelaat word en hoop dat “die waarheid” binnekort sal uitkom.
OFM Nuus/Charne van der Merwe