On Now
Weekends 12:00 - 16:00
Saterdag Siësta Olebogeng
Show Background
NEXT: 16:00 - 20:00 OFM Decades with James
Listen Live Streams

Central SA

‘Kuns’ ontmoet ‘Welstand’ amptelik op Vrystaat Kunstefees

───   CORNÉ GREYVENSTEIN 08:30 Sat, 19 Jul 2025

‘Kuns’ ontmoet ‘Welstand’ amptelik op Vrystaat Kunstefees | News Article
Die voltooide kunswerk word aan Puzzles of Impact by die Nasionale Hospitaal geskenk – die skoenlapper is ’n simbool met diep betekenis in die wêreld van arbeidsterapeute. Foto: Corné Greyvenstein

Hoewel Kuns en Welstand al lank saam dans op die rand van mekaar se wêrelde, het hulle mekaar vanjaar vir die eerste keer op die Vrystaat Kunstefees amptelik ontmoet en hul interafhanklikheid bevestig.

’n Nuwe pilaar is vanjaar op die fees staande gemaak – kuns/kreatiwiteit en gesondheid/welstand. 

“Die fees se idee was om ’n program te skep waar ons kuns by gesondheid wou uitbring, om te kyk waar die twee kan ontmoet en hoe die twee mekaar kan ondersteun,” vertel Maritsa Barlow, ’n gekwalifiseerde en geregistreerde musiekterapeut in Bloemfontein.

Deelnemers aan Sintuiglik Skeppend was bevoorreg om aan dié besonderse sessie deel te neem, wat hul sintuie ingespan het vir iets groter.

Daar is eers na musiek geluister om die emosies en verbeelding los te maak. Daarna is daardie gevoelens met tekeninge uitgedruk en innerlike reaksies is op papier vasgelê. Dié sessie deur Barlow het ook ’n inleiding tot musiekterapie gebied, waarin verduidelik is hoe musiek as ’n kragtige hulpmiddel gebruik kan word vir emosionele uitdrukking, genesing en geesteswelstand.

“Natuurlik gaan dit ook oor die breër gemeenskap en hoe ons daar kan help. Dit gaan min of meer daaroor dat jy kunstenaars betrek om hospitaalgange mooi te maak, of 'n koor stig vir versorgers wat in hospitaalsale werk. 

“So, ons bring die kunste uit by gesondheid en by die gemeenskappe waar dit nodig is. Wat ons die afgelope week mee begin het op die fees, is drie werkswinkels waar ons met kuns gewerk het – ons het ’n resin- of harpuisgietwerksessie gehad, ons het ’n SoulCollage-werksessie gehad, en vandag hierdie sessie (Sintuiglik Skeppend) waar ons musiekterapie toegepas het en ons deelnemers iets lekker sintuiglik laat ervaar het.”

Helet Marais van Let’s Crunch. Foto: Corné Greyvenstein

Koskunstenaar en -fundi Helet Marais van Let’s Crunch het deelnemers op ’n speelse en sintuiglike voedselsreis geneem om die sintuie verder op te warm.

Elke deelnemer het ’n bord ontvang met ’n verskeidenheid drankies en happies, sorgvuldig saamgestel volgens spesifieke kleure, geure en visuele elemente. Voordat hulle enigiets kon proe, is gaste genooi om die geure te raai – slegs op grond van hoe dit lyk en ruik. 

Nee, dis nie Amarula nie, dis warm koffie! Foto: Corné Greyvenstein

Hierdie prettige eksperiment het op ’n treffende manier getoon hoe sintuie persepsie vorm, lank voordat ons selfs ’n slukkie of happie neem.

Die arbeidsterapeut Corné Thomas het die groep voorgestel aan Puzzles of Impact, ’n nie-winsgewende organisasie wat daartoe verbind is om komplekse sosiale uitdagings aan te pak.

Corné Thomas, ’n arbeidsterapeut van die Nasionale Hospitaal, werk hard daaraan om met kuns en handewerk die oorsake van sosiale uitdagings aan te pak. Foto: Corné Greyvenstein

By Puzzles of Impact is die fokus op die aanspreek van die oorsake van vervreemding, armoede en uitsluiting – kwessies wat diep verweef is en dikwels oor die hoof gesien word. Deur te fokus op die sosiale aspekte wat gesondheid bepaal, poog die organisasie om verbintenis te bevorder deur betekenisvolle werk, lewenslange leer en ’n sterk gevoel van behoort.

Hul missie is duidelik: om transformasie aan te wakker, welstand te bevorder en lewensgehalte te verbeter. Met die oortuiging dat elkeen ’n stukkie van die legkaart hou, werk Puzzles of Impact daaraan om bemagtigde, volhoubare gemeenskappe te bou – een legkaartstukkie op ’n slag.

Die skoenlapper verteenwoordig transformasie, groei en genesing – sleuteltemas in ’n arbeidsterapeut se werk. Foto: Corné Greyvenstein

Nog ’n engel, Nelmari Oosthuysen van A Peace of Art, het deelnemers begelei op ’n betekenisvolle en kreatiewe reis.

Sy het ’n (geheime) laser-uitgesnyde houtprojek ontwerp wat uit individuele stukkies bestaan het, en elke deelnemer het een van hierdie stukkies ontvang om te verf. Niemand het geweet wat die einddoel was nie – elke deelnemer het bloot hul unieke bydrae geskep. Maar toe al die stukke saamgevoeg word, het daar iets besonders na vore gekom: ’n enkele, treffende beeld van ’n skoenlapper – gevorm uit elkeen se persoonlike bydrae.

Hierdie voltooide kunswerk sal aan Puzzles of Impact by die Nasionale Hospitaal geskenk word – ’n simbool met diep betekenis in die wêreld van arbeidsterapie. 

Die skoenlapper verteenwoordig transformasie, groei en genesing –sleuteltemas in ’n arbeidsterapeut se werk. Net soos ’n skoenlapper uit ’n kokon kom deur ’n proses van verandering, ondersteun arbeidsterapie mense in hul proses van herbou, aanpassing en herontdekking van onafhanklikheid en doel in hul lewens.

Hierdie voltooide kunswerk sal aan Puzzles of Impact by die Nasionale Hospitaal geskenk word. Foto: Corné Greyvenstein

“Ons het met Sintuiglik Skeppend almal saam ’n kunswerk gemaak wat ons skenk aan die Nasionale Hospitaal se arbeidsterapiespan. So reik ons dan ook uit na die gemeenskap. En Saterdagoggend (19/7) om 10:00 bied ons ’n skryfpaneel aan – ‘Writing as Therapy’.

“Ons het ’n paar skrywers wat boeke geskryf het wat vir hulself terapeuties was. Ons gaan gesels oor hoe ’n mens skryfwerk as ’n terapeutiese middel kan gebruik. Dit is wat ons tydens die fees gedoen het en ons hoop om breër werksessies te doen gedurende die res van die jaar en volgende jaar net uit te bou op ons plan,” het Barlow afgesluit.

Tevrede deelnemers het teruggekeer na die fees met die wete dat terwyl hulle hul innerlike wêreld verken het, hulle iets werklik betekenisvol help skep het.

OFM Nuus/Corné Greyvenstein cg


@ 2025 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.