Central SA
Konsert op unieke digitale pyporrel ’n eerste vir Potchefstroom─── 14:27 Mon, 21 Jul 2025

’n Aangrypende orrelfeesprogram wag op Potchefstromers en besoekers wat die Orrelfees 2025-konsert in dié eikeboomdorp gaan bywoon.
Die fees word Saterdag 30 Augustus om 15:00 deur die Gereformeerde Kerk Potchefstroom aangebied.
Met Magda Pelser (orrelis van die gemeente), John Reid Coulter en Jetty van Rensburg (besoekende orreliste) as soliste gaan die Rodgers Artist 589-orrel die akoestiese ruimtes van die kerk vul met klanke wat nog lank in harte sal nagalm. OFM Nuus het met Pelser gesels en sy sê orrelliefhebbers kan uitsien na werk van onder meer Philip Glase, Camille Saint-Saëns, Josef Rheinberger, JS Bach, Dieterich Buxtehude, Marie-Claire Widor en Léon Boëllmann.
John Reid Coulter, orrelis wat solis is op die Orrelfees 2025 in Potchefstroom. Foto verskaf
“Wat die fees besonders maak, is dat orrelmusiek nie op die tradisionele pyporrel uitgevoer gaan word nie, maar op ’n Rodgers Artist 589-orrel wat ’n nuwegenerasie- digitale pyporrel is. Die orrel het 156 basiese registers (klanke), 104 uitgebreide registers en 32 orkesinstrumente.
Dit bied vier orreltipes in een: Amerikaans-Eklekties, Engels-Katedraal, Frans-Romanties en Duits-Barok. Musiekliefhebbers wat musiek van die koning van instrumente waardeer, kan ’n kaleidoskoop van unieke artistieke moontlikhede en klankkleure verwag.”
Digitale orrels het die eerste keer in die jare 90 in die vorige eeu verskyn, maar was aanvanklik nie van dieselfde gehalte as klassieke pyporrels nie. Intussen het ’n verbysterende nuwe generasie digitale pyporrels ontwikkel wat wêreldwyd opslae maak as alternatiewe instrumente vir die klassieke pyporrel.
Jetty van Rensburg, solis op die Gereformeerde Kerk Potchefstroom se Orrelfees 2025. Foto verskaf
Die nuwegenerasie-orrels bied ’n waardige eerbetoning aan die dokumentering en bewaring van die klanke (registers) van die koning van instrumente, sê die Nederlandse orrelis Pieter de Ruijter, ’n groot voorstander en liefhebber van digitale orrels, op sy webwerf.
Musiekliefhebbers kan op 30 Augustus eerstehands luister hoe Saint-Saëns se Orrelsimfonie nr. 4 (vierde beweging) saam met ’n volle simfonieorkes klink. Die orkesgedeelte is vooraf deur Pelser op die Rodgers-orrel ingespeel en opgeneem sodat sy die solistiese deel saam met die orkes kan uitvoer.
Pelser sê die orrelfront van die vorige orrel, ’n pyporrel wat weens herstelprobleme nie meer bekostigbaar was nie, is in die kerk behou.
‘Naklankperiodes wat wissel van een tot tien sekondes’
Die gesofistikeerde luidsprekers van die Rodgers-orrel wat tot majestieuse klanke in staat is, is agter die pype.
Die naklanktegnologie is verstommend en stel die orrelis in staat om na behoefte nagalms by te voeg om die orrel se klank en verspreiding in die kerkgebou te verbeter en te ondersteun. Naklankperiodes wat wissel van een tot tien sekondes en selfs meer kan na willekeur en volgens die behoefte van die kerk elke ruimte van die gebou vul.
Met hierdie verrykte klank is dit ook moontlik om gemeentesang beter te bedien.
Deurwinterde orreliste as soliste
Pelser is ’n heeltydse orrelis wat sedert 2009 al in verskeie kerke orrelis was. Sy het ’n uitvoerende doktorsgraad onder leiding van Wim Viljoen behaal en sy is tans orrelis van die Gereformeerde Kerk Potchefstroom. Die konsert op 30 Augustus onder haar leiding is ’n eerste van hierdie omvang vir Potchefstroom.
Van Rensburg is orrelis van die Gereformeerde Kerk Potchefstroom-Noord en vir baie jare reeds bekend vir haar musieknavorsing as gerespekteerde akademiese personeellid van die Noordwes-Universiteit. As orrelsolis het sy al diep spore getrap.
Reid Coulter, orrelis van die Rooms-Katolieke Kerk in Potchefstroom, is nasionaal sowel as internasionaal bekend vir sy navorsing oor musiekvoordrag, as komponis en ook as uitvoerende orrelis.
’n Konsert van dié gehalte en omvang op ’n nuwegenerasie-instrument is ’n eerste vir Potchefstroom. Dit is ten bate van die Gereformeerde Kerk Potchefstroom en ná afloop van die konsert word ’n geselligheid gehou met sjerrie, sop en sap.
Kaartjies kan aanlyn gekoop word. Verdere navrae kan aan Alta Pretorius by 083 361 2490 of 081 392 2071 gerig word.
OFM Nuus/Susan Maré cg/mvh