Central SA
Ramaphosa besoek Noord-Kaap om munisipale regering te verbeter─── CHARNÉ VAN DER MERWE 09:45 Tue, 22 Jul 2025

Die president sal na verwagting Vrydag (25/7) die Noord-Kaap besoek om ’n gesamentlike kabinetstoesigpoging te lei wat daarop toegespits is om uitdagings met dienslewering die hoof te bied en plaaslike regering te versterk.
Dié besoek is daarop gemik om koördinering tussen nasionale, provinsiale en munisipale strukture te verbeter om gemeenskappe beter te dien.
Cyril Ramaphosa, vergesel van kabinetslede, sal in Kimberley vergader met provinsiale hooggeplaastes soos dr. Zamani Saul, Noord-Kaapse premier, LUR’e en burgemeesters van die provinsie se vyf distriksmunisipaliteite, sê William Baloyi van die regeringskommunikasiediens.
Dr. Zamani Saul, Noord-Kaapse premier. Foto: Facebook/Northern Cape Provincial Government
Die besoek, gehou onder die tema “ ’n Nasie wat vir almal werk”, is die gevolg van ’n verbintenis tydens die 2024-begrotingsrede om nouer saam te werk met provinsiale en plaaslike regering.
Volgens Baloyi sal, in ooreenstemming met Artikel 154 van die Grondwet, die besprekings toegespits wees op die ondersteuning en versterking van munisipaliteite, die bevordering van inklusiewe ekonomiese groei, die bevordering van werkskepping en die verbetering van dienslewering.
Die Noord-Kaapse provinsiale regering beskryf die besoek as ’n belangrike en historiese oomblik vir die provinsie.