Central SA
Bloemfonteinse ontkleeklub-eienaar kry R10 000 borgtog─── ZENANDE MPAME 12:23 Tue, 22 Jul 2025

Die Bloemfonteinse landdroshof het die saak van die ontkleeklub-eienaar, wat van verskeie seksuele misdrywe aangekla word, tot Woensdag 10 September uitgestel vir verdere ondersoek.
Die 64-jarige is borgtog van R10 000 toegestaan toe hy Maandag (21/7) vir ’n borgtogaansoek en uitspraak in dieselfde hof verskyn het. Sy regsverteenwoordiger het egter ’n week tevore die aansoek teruggetrek en gesê hulle was nie gereed om voort te gaan nie.
Die staat, sowel as adv. CJ van Schalkwyk, die verdagte se regsverteenwoordiger, het Maandag hul slotbetoë in die hof gelewer. ’n Beëdigde verklaring van speurkonst. Jessica du Preez is in die hof voorgelees, waarin sy haar redes uiteengesit het waarom sy borgtog teengestaan het.
In die hof is onthul ses slagoffers is by die saak betrokke, van wie vier minderjarig is. Almal het die verdagte uitgewys. Die oorspronklike klaagster (20) het op Maandag 30 Junie ’n saak aanhangig gemaak oor verskeie voorvalle van seksuele aanranding sedert Mei.
‘Hy mag geen kontak hê met enige van die staatsgetuies nie’
“Die borgtogvoorwaardes bepaal die verdagte moet al sy vuurwapens aan die ondersoekbeampte oorhandig en elke Maandag om 11:00 by die Navalsig-polisiekantoor aanmeld,” sê Mojalefa Senokoatsane, Vrystaatse NVG-woordvoerder.
“Hy mag geen kontak hê met enige van die staatsgetuies nie, mag nie die provinsie sonder toestemming van die ondersoekbeampte verlaat nie en moet ook sy paspoort indien.”
Die staat het borgtog teenstaan omdat, volgens die speurder se verklaring, nog slagoffers vorendag gekom het sedert die verdagte in aanhouding is.
’Daar is intussen bykomende slagoffers geïdentifiseer, onder wie drie minderjariges’
Voorts het die staat ook betoog daar word gevrees die verdagte kan getuies intimideer omdat daar ’n huishoudelike verband met die saak is. Die media se aandag aan die saak en die betrokkenheid van minderjariges was nog redes vir die teenkanting van borgtog.
Die verdagte staan tereg op sewe aanklagte van verkragting, mensehandel en seksuele aanranding.
“Daar is intussen bykomende slagoffers geïdentifiseer, onder wie drie minderjariges tussen twaalf en 15 jaar oud, wat die polisie genoop het om die ondersoek verder uit te brei,” sê Loraine Earle, Vrystaatse polisiewoordvoerder. “Die kinders is verwyder en in ’n veilige hawe in Bloemfontein geplaas.”