On Now
Weekdays 19:00 - 22:00
OFM Nights Ashmund
Show Background
NEXT: 22:00 - 23:59 Overnight with Oscar
Listen Live Streams

Central SA

Polisie ondersoek ongeluk ná Oakdale-leerder in Vrystaat sterf

───   CHARNÉ VAN DER MERWE 12:56 Tue, 22 Jul 2025

Polisie ondersoek ongeluk ná Oakdale-leerder in Vrystaat sterf | News Article
Die Bezuidenhout-gesin in Desember – Ruben, Riaan, Benita en Wian. Foto: Facebook/Benita Bezuidenhout

Vrystaatse polisie ondersoek ’n saak van strafbare manslag ná ’n motorongeluk waarin ’n Wes-Kaapse seun (16) sy lewe verloor het.

Ruben “Klippies” Bezuidenhout, ’n gr.10-leerling aan die Hoër Landbouskool Oakdale op Riversdal, het Saterdag (19/7) omstreeks 16:30 gesterf in ’n motorongeluk op ’n Vrystaatse plaas, waar hy by ’n vriend gekuier het, sê Loraine Earle, provinsiale polisiewoordvoerder.

“Die voorval het op ’n grondpad in die Tierpoort-gebied plaasgevind. Na bewering het die bestuurder van ’n wit Isuzu-bakkie, wat op die grondpad gery het, beheer verloor, waarna die voertuig meermale gerol het.”

Volgens Earle is nooddienste na die toneel ontbied, waar Bezuidenhout dood verklaar is weens veelvuldige beserings.


Die bestuurder van die voertuig is na ’n hospitaal geneem vir mediese behandeling.

Die skool het Maandag (21/7) op Facebook sy meegevoel met Ruben se naasbestaandes betuig. “Ons betuig as skool en gemeenskap ons [diepste simpatie] met sy naasbestaandes. Ons harte gaan uit na sy ouers Riaan en Benita, asook sy broer Wian, wat in gr. 9 is.

Skoolhoof Willem du Buisson het aan lede van die media gesê dat Bezuidenhout een van die skool se top 20 akademiese presteerders was.

Oakdale leerders het Dinsdagoggend (22/7), met aanvang van die skooldag, ‘n huldeblyk aan Ruben betoon. Elke leerder het ‘n klippie ontvang wat hul in ‘n glasvaas kon plaas, verteenwoordigend van gebede aan Ruben se familie. ‘n Kersie is aangesteek wat leerders kon pak op die naam Klippies. “Ons harte weeg swaar, ons skoolvlag hang halfmas … Ruben ons sal jou as ligdraer altyd onthou!”


Honderde vriende en familielede het op sosiale media hul simpatie betoon:

Nerika Weldhagen skryf: “Philip sê altyd sy beste vriend is Ruben. Vanaf die moederskamer Sondae en die verjaardag partytjie met die Hulk op TV. Benita Bezuidenhout en Riaan Bezuidenhout Dankie, dat altyd as ons in die omtrek is, die manne kan saam kuier. Laaste Grey inter het Philip eerste vir Ruben gesoek. Hoeveel Ruben vir Philip beteken sal ek nooit in woorde kan sit. Beniets, Riaan en Wian ons bid vir julle. Mag Jesus julle styf vashou. Ons harte is seer. Rus sag Ruben.”

***

Dené du Plooy sê: “Ag nee Ruben. Ek sal jou vriendelike gesiggie altyd onthou en hoe mooi jy ons met die opedag ontvang het in 2024 en Denru aan elke woord gehang het wat jy gesê het. Jy het die mooiste maniere. Jy was 'n pragtige seun wat altyd so mooi gegroet het. Ons harte is baie baie seer en dink aan jul gesin in hierdie moeilike tyd. Jy het 'n groot aandeel gehad tot die liefde en goeie indruk wat Oakdale op ons gemaak het. Jy gaan beslis BAIE gemis word.”

***

En dan ... “Ruben/Klippies, ek het jou langs die tennisbane leer ken via Johan en jou vriendelikheid sal my altyd bybly. Rus in vrede! Sterkte aan Riaan en Benita, asook die ander persone wat in die ongeluk betrokke was,” skryf Danie van Rensburg.

***

“Sjoe, lanklaas het iemand se afsterwe my so geraak soos Klippies sin, seker omdat Klippies en Neil ware dubbelgangers was. Ek gaan dit so mis om elke keer as ek Neil sien op Oakdale se gronde twee keer te moet kyk om seker te maak dat dit Neil is en nie Klippies nie??. Benita Bezuidenhout en Riaan Bezuidenhout ek het nie woorde nie. Ek bid vir vertroosting vir julle en Wian??,” skryf Chrisna Meyer.

OFM Nuus/Charne van der Merwe cg


@ 2025 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.