Central SA
Noord-Kapenaar se verhoor begin dan ná moord op suster─── CHARNÉ VAN DER MERWE 09:29 Thu, 24 Jul 2025

Die hofsaak van ’n Noord-Kapenaar, wat byna vyf jaar lank gesoek is vir die moord op sy suster, begin na verwagting op 17 November.
Marthinus du Toit (64) het Vrydag 11 Julie die eerste keer voorgekom in die Kimberleyse landdroshof nadat sy saak vir ’n vyf dae lange verhoor uitgestel is, sê Mojalefa Senokoatsane, provinsiale NVG-woordvoerder.
“ ’n Gekoördineerde poging deur die Noord-Kaapse opsporingspan het gelei tot die inhegtenisneming van die moordverdagte op Mosselbaai, byna vyf jaar ná die wrede moord op sy suster in Kimberley.”
Die verdagte is Woensdag, 9 Julie in die woonbuurt Heiderand aangekeer ná ’n gesamentlike operasie waarby die polisie van Da Gamaskop en Mosselbaai, die Wes-Kaapse seegrenseenheid en die Noord-Kaap se eie opsporingspesialiste betrokke was.
Bly in aanhouding tot sy verhoor
Sers. Cedric Nelson van die Noord-Kaapse opsporingspan het gereageer oor waar die verdagte hom bevind het en hom suksesvol opgespoor.
Du Toit bly in aanhouding totdat sy verhoor begin.
Lt.genl. Koliswa Otola, Noord-Kaapse polisiekommissaris, loof die suksesvolle uitkoms van die interprovinsiale vennootskap wat tot die inhegtenisneming van die verdagte gelei het.
Intussen soek Noord-Kaapse polisie steeds na die verdagte of verdagtes nadat ’n man se liggaam byna twee weke gelede buite ’n kuierplek in Kimberley aangetref is.
Ontdekking van die man se liggaam by Stones-nagklub
’n Geregtelike doodsondersoek is geopen ná die ontdekking van ’n man se liggaam by die Stones-nagklub in De Beers in die vroeë oggendure van 13 Julie, sê kol. Cherelle Ehlers, polisiewoordvoerder.
“Die Kimberley-speureenheid ondersoek die dood van ’n volwasse man, vermoedelik tussen 55 en 60 jaar oud, wie se liggaam dié Sondag omstreeks 04:30 by ’n plaaslike nagklub gevind is.”
Ehlers sê die naam van die oorledene mag nie bekend gemaak word nie, aangesien sy familie nog nie toestemming verleen het nie. Sy het bygevoeg dat ’n lykskouing uitgevoer sal word om die oorsaak van sy dood te bepaal.
Enigiemand met inligting word versoek om ao. JJ Markgraaff by 082 302 0407 te nader of Stop Misdaad by 08600 10111. Alle inligting sal as vertroulik gehanteer word.
OFM Nuus cg