On Now
Weekdays 19:00 - 22:00
OFM Nights Ashmund
Show Background
NEXT: 22:00 - 23:59 Overnight with Oscar
Listen Live Streams

Central SA

Bloemfonteiner skuldig ná veghond kind verskeur

───   CHARNÉ VAN DER MERWE 09:45 Thu, 24 Jul 2025

Bloemfonteiner skuldig ná veghond kind verskeur | News Article
Olebogeng Mosime (8) is op 12 November 2022 in sy erf in Vista Park doodgebyt. Foto: Facebook

’n Bloemfonteinse vrou word na verwagting op 2 September gevonnis vir strafbare manslag nadat haar Amerikaanse veghond uit haar erf ontsnap en ’n kind noodlottig aangeval het.

Keabetswe Moroane (43) is Vrydag in die Bloemfonteinse streekhof skuldig bevind nadat die hond Olebogeng Mosime op 12 November 2022 in sy erf in Vista Park doodgebyt het, sê Mojalefa Senokoatsane, NVG-woordvoerder.

Mosime, ’n gr. 3-leerling aan die Primêre Skool Roseview in Bloemfontein, het verskeie bytwonde aan sy nek en bors opgedoen.

Volgens Senokoatsane het een van Moroane se drie honde ’n geskiedenis van aggressie gehad. Verskeie inwoners het voorheen gekla hy het hulle bedreig laat voel, wat kommer laat ontstaan het lank voor die dodelike aanval.

Bure het herhaaldelik gekla

Ten spyte van herhaalde klagte en pogings deur Moroane en haar bure om die hond te beteuel, soos heinings en houtpale wat aangebring is, het sy in gebreke gebly om behoorlike strukture in stand te hou om seker te maak die dier word veilig binnegehou, sê Senokoatsane.

“Die hof het beslis Moroane het nie redelike stappe gedoen om voorsienbare skade te voorkom nie, wat haar wettiglik nalatig maak. Weens die hond se gedrag en talle klagtes het sy ’n plig gehad om die gemeenskap teen gevaar te beskerm. Haar versuim om beslissend op te tree, het gelei tot die tragiese verlies van ’n jong lewe.”

NVG verwelkom hof se beslissing 

Die NVG sê hulle verwelkom die hof se beslissing en het die pogings van die ondersoek- en vervolgingspan geprys. Dit het ook innige meegevoel betuig aan die familie van Olebogeng, die jong slagoffer.

“Hierdie saak is ’n ontnugterende herinnering dat diegene wat gevaarlike diere aanhou, beide ’n wetlike en morele verantwoordelikheid dra om ander te beskerm,” sê Senokoatsane. “Wanneer nalatigheid tot beserings of dood lei, moet die regstelsel ferm reageer om openbare veiligheid en aanspreeklikheid te verseker.”

Die hond is van kant gemaak en die DBV het die ander twee honde verwyder.

OFM Nuus cg

@ 2025 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.