On Now
Weekdays 19:00 - 22:00
OFM Nights Ashmund
Show Background
NEXT: 22:00 - 23:59 Overnight with Oscar
Listen Live Streams

Central SA

Polisie bevorder glo minder gekwalifiseerde kandidaat in Kimberley

───   CHARNÉ VAN DER MERWE 11:25 Thu, 24 Jul 2025

Polisie bevorder glo minder gekwalifiseerde kandidaat in Kimberley | News Article
Ao. Neo Mosientane en lt.kol. Ralda Breedt het deelgeneem aan die Nasionale Praktiese Pistoolskietkampioenskap vroeër vanjaar en baie goeie resultate behaal. Foto: www.saps.gov.za

Die polisie is weereens oor die kole gehaal weens onbillike arbeidspraktyke met betrekking tot ’n kandidaat wie se aansoek om bevordering op ’n onbillike wyse afgekeur is.

Die Kommissie vir Versoening, Bemiddeling en Arbitrasie (KVBA) het die polisiediens gelas om lt.kol. Ralda Breedt tot kolonel te bevorder nadat bevind is dat sy onregverdig van bevordering uitgesluit is ten gunste van ’n minder geskikte kandidaat, sê Theunis van Staden, Solidariteit-organiseerder. “ ’n Minder geskikte kandidaat is wél bevorder.”

Volgens Van Staden is die saak voor die KVBA aangehoor, waar die kommissaris bevind het die polisie kon nie ’n rasionele of regverdige rede gee waarom Breedt nie bevorder is nie.

Onbillike arbeidspraktyk

“Ook is die besluit om ’n minder geskikte kandidaat aan te stel, as ’n onbillike arbeidspraktyk ingevolge artikel 186(2)(a) van die Wet op Arbeidsverhoudinge bevestig.”

Breedt, ’n lt. kol.  wat sedert 2019 in die Valke se ondersoekeenheid vir ernstige korrupsie in Kimberley dien, het aansoek gedoen om die pos bevelvoerder, maar is oor die hoof gesien ten spyte van jare lange gespesialiseerde ervaring in korrupsieondersoeke, waaronder werk met die departement van openbare werke en Eskom.

Die onderhoudspaneel het haar as die beste kandidaat aangewys en vir aanstelling aanbeveel, sê Van Staden. “Tog is die aanbeveling deur die modereringskomitee verwerp en die pos is toegewys aan ’n kandidaat wat, volgens die arbitrasiebevel, nie aan die posvereistes voldoen het nie en nooit eens op die kortlys moes gewees het nie.” 

Bevel uitgereik

In die uitspraak het die kommissaris beslis dat Breedt onregverdig benadeel is en die volgende streng bevel is uitgereik:

• die polisie moet Breedt tot die pos van eenheidsbevelvoerder van ernstige korrupsieondersoeke (met die rang kolonel) bevorder;

• die bevordering moet terugwerkend in werking tree vanaf 1 Mei 2023;

• die polisie moet aan haar die volle vergoeding en voordele betaal wat op die pos betrekking het, naamlik ’n totaal van R664 300, minus enige wettige aftrekkings; en

• die bedrag moet teen 31 Julie betaal word.

Van Staden sê hierdie uitspraak is een van min waar nie net vergoeding toegestaan is nie, maar waar die bevordering self ook afgedwing word.

Polisie versuim om eie beleid toe te pas

“Dit is ’n kragtige regstellende stap vir geregtigheid in die werkplek en ons is verheug dat ons lid op meer as een wyse vergoed word. Sy verdien dit, al was daar amptenare wat dit van haar wou ontneem.”

Die uitspraak is ’n belangrike oorwinning vir geregtigheid in die werkplek, sê Van Staden. Hy beklemtoon dat die saak nie net oor vergoeding gaan nie, maar ook oor die regstelling van ’n onregverdige uitsluiting.

Solidariteit het aangevoer dat ras ’n rol gespeel het in die besluit om Breedt se aanstelling te verwerp, ondanks die feit dat die pos nie as ’n regstellende-aksie-pos geadverteer is nie.

“Die polisie het versuim om sy eie beleid toe te pas, wat vereis dat kwalifikasies, ervaring en die effek op dienslewering oorweeg moet word. Deur dié vereistes te ignoreer en slegs ras as ’n vereiste te stel, is ’n absolute plafon geskep, wat reeds deur die Suid-Afrikaanse regstelsel as onregmatig beskou word,” sê Van Staden.

OFM Nuus/Charne van der Merwe cg

@ 2025 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.