On Now
Weekdays 00:00 - 05:00
Early Mornings Oscar
Show Background
NEXT: 05:00 - 06:00 The Agri Hour with Gerben
Listen Live Streams

Central SA

Masilonyana-burgemeester moet verslag oor oudbestuurder aan raad voorlê

───   KEKELETSO MOSEBETSI 15:17 Tue, 29 Jul 2025

Masilonyana-burgemeester moet verslag oor oudbestuurder aan raad voorlê | News Article
Voormalige Masilonyana-bestuurder Michelle Sello, tans by die Lejweleputswa-distriksmunisipaliteit, word in ’n verslag genoem wat aan die Masilonyana-raad voorgelê gaan word. Foto: Facebook

Die hooggeregshof in Bloemfontein het beveel Masilonyana se burgemeester moet ’n verslag aan die raad voorlê oor aantygings van finansiële wanbestuur teen Michelle Sello, gewese waarnemende munisipale bestuurder.

Die munisipaliteit, wat Theunissen, Brandfort en Winburg insluit, gaan gebuk onder ’n bestuurskandaal. Itumeleng Mogaecho, Masilonyana se voormalige regsbestuurder, het die hof genader nadat sy herhaalde interne pogings glo geïgnoreer is om die beweerde wanbestuur hok te slaan.

Mogaecho het die hof versoek om die omstrede burgemeester, Dimakatso Modise, en munisipale bestuurder, Mojalefa Matlole, te dwing om die verslag soos aan die raad voor te lê. In dié verslag, wat in Januarie 2023 opgestel is, word Sello daarvan beskuldig dat sy versuim het om betalings aan derde partye soos pensioenfondse te doen, en dat sy ’n bedrieglike betaling van byna R900 000 aan ’n kamma-diensverskaffer goedgekeur het.

Vrydag (25/7) het die hof ten gunste van Mogaecho beslis en die speaker, Steven Makata, opdrag gegee om binne sewe dae ’n spesiale raadsvergadering te belê sodat Modise of Matlole die verslag formeel aan die raad kan voorlê. Die uitspraak sluit ook ’n kostebevel teen die munisipaliteit in.

Volgens Mogaecho is sy pogings om die saak verder te voer doelbewus deur Modise en senior amptenare in die wiele gery. Hy beweer Modise en Matlole het munisipale hulpbronne misbruik en nie op geloofwaardige aantygings gereageer nie om persoonlike of politieke redes.

Modise het glo die verslag se bevindings verwerp en geweier om dit aan die raad voor te lê. Sy het ook glo persoonlike aanvalle op Mogaecho geloods en hom daarvan beskuldig dat hy bevooroordeeld is teenoor vroue in die werkplek ná ’n konfrontasie by haar huis. 

Tog is die aantygings in Mogaecho se verslag later bevestig deur ’n onafhanklike ondersoek van die Lejweleputswa-distriksmunisipaliteit se tugraad. In dié verslag, wat in September ingedien is, is die bewerings beaam en stappe aanbeveel, maar Masilonyana het nog geen daarvan geïmplementeer nie.

Mogaecho het uiteindelik bedank midde-in toenemende druk, politieke inmenging en beweerde viktimisasie. Intussen het Modise Vrydag voor die portefeuljekomitee oor samewerkende regering en tradisionele aangeleenthede verskyn om rekenskap te gee oor verskeie bestuursprobleme. 

Sy is onder meer uitgevra oor ’n luukse reis na Durban in Desember, glo met munisipale vervoer en kredietkaart. Haar weergawe is lynreg weerspreek deur Matlole, wat gesê het dit het duidelike finansiële implikasies vir die munisipaliteit gehad.

OFM News/Kekeletso Mosebetsi mvh

@ 2025 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.