On Now
Weekdays 09:00 - 12:00
Mid-Morning Magic Yolanda
Show Background
NEXT: 12:00 - 15:00 At Lunch with Pulane
Listen Live Streams

Central SA

Munisipale gebou in Vaaldriehoek gesluit weens wanbetaling

───   CHARNÉ VAN DER MERWE 13:24 Wed, 30 Jul 2025

Munisipale gebou in Vaaldriehoek gesluit weens wanbetaling | News Article
Munisipale gebou in Vaaldriehoek gesluit weens wanbetaling. Foto: VF Plus

Die sluiting van ’n Vaaldriehoekse munisipaliteitsgebou is die direkte gevolg van voortdurende versuim om huur aan die eienaar te betaal.

Emfuleni-munisipaliteit het ’n geskiedenis van wanbetaling aan verskaffers en krediteure, wat ’n groeiende finansiële en bestuurskrisis beklemtoon, sê Gerda Senekal, VF Plus-raadslid. 

“Die sluiting van Emfuleni se administratiewe gebou weens onbetaalde huur is verdere bewys van die ernstige finansiële wanbestuur wat die munisipaliteit tans ervaar.” Haar party het onlangs gewaarsku Emfuleni staan op die rand van ineenstorting weens voortdurende wanbetalings aan diensverskaffers en krediteure. 

Interne twis in VF Plus ná beskuldigings teen raadslid | News Article

Raadslid Gerda Senekal. Foto: Facebook/Gerda Senekal

“Wanneer selfs die munisipaliteit se eie werkplek gesluit word omdat rekeninge onbetaald bly, demonstreer dit die volle omvang van die krisis,” sê Senekal.

Dit is duidelik dat ingryping op provinsiale vlak dringend nodig is, voeg sy by. Die VF Plus sal aanhou druk uitoefen sodat Emfuleni onder volle administrasie geplaas word om noodsaaklike dienslewering aan inwoners te herstel en verdere agteruitgang te voorkom.

Nie alle kantore word geraak nie, sê Makhosonke Sangweni, Emfuleni-woordvoerder, by navraag. “Dit is slegs een gebou wat ons huur, wat ons tans met die eienaar uitklaar.” 

Die kennisgewing op die deur van die Emfuleni Munisipaliteit se kliëntesorgsentrum. Foto verskaf

Die munisipaliteit was ook onder die loep nadat Eskom op vier van sy bankrekeninge beslag gelê het om ongeveer R8 miljard in onbetaalde elektrisiteitsrekeninge te probeer verhaal. Dit is amper ’n tiende van die R82 miljard wat munisipaliteite landwyd aan Eskom skuldig. 

Eskom het in September aangekondig dat Emfuleni ná verskeie oortredings nie meer in aanmerking kom vir die nasionale skuldverligtingsprogram kragtens die munisipale finansiële bestuurswet nie. Die kragvoorsiener het die nasionale tesourie en die munisipaliteit formeel op 2 Julie in kennis gestel van sy voorneme om op te tree, en teen 11 September het die balju die beslaglegging uitgevoer.

Volgens Eskom het hy sedert 2018 alle wettige kanale uitgeput om munisipale skuld te verhaal. Ná ’n hofuitspraak in Junie 2023 is Eskom as Emfuleni se amptelike invorderingsagent aangestel, wat vereis dat inwoners hul elektrisiteitsrekening direk aan die voorsiener betaal. 

LEES OOK: Raadop Eskom lê beslag op groot skuldenaar Emfuleni se bankrekeninge

Party inwoners het gehoor gegee om hul rekening te betaal, maar talle ignoreer die versoek.

Senekal is bekommerd oor faktureringsverwarring, aangesien inwoners voorheen ’n enkele munisipale faktuur ontvang het. Sy kritiseer Eskom ook vir verslegtende dienslewering, versuim om infrastruktuur te verbeter ten spyte van ’n hofbevel, en die feit dat hulle nie plaaslik herbelê nie.

Vroeër vanjaar het Emfuleni R636 miljoen in ongebruikte infrastruktuurtoelaes aan die tesourie teruggegee, wat dienslewering in gemeenskappe soos Vanderbijlpark en Sebokeng verder versleg het.

OFM Nuus mvh

@ 2025 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.