Click on the warning image to view this post
Central SA
Geestesiekes: Noord-Kaap se regering beloof stappe ná ondersoek─── REFILWE BEKANE 15:30 Fri, 01 Aug 2025
Die Noord-Kaapse departement van gesondheid het onderneem om die aanbevelings van die gesondheidsombud volledig uit te voer ná ’n ondersoek na die mishandeling van geestesgesondheidspasiënte in Kimberley.
Dit volg nadat verdoemende bevindinge van prof. Taole Mokoena, gesondheidsombud, oor erge personeeltekorte, ’n gebrek aan senior kliniese personeel en onvoldoende gesondheidsorgvoorsiening by onder meer die Noord-Kaapse psigiatriese hospitaal bekend gemaak is.
Die departement het Donderdag (31/7) ’n mediakonferensie gehou oor die ombud se verslag oor die behandeling van psigiatriese pasiënte in dié hospitaal sowel as die Robert Mangaliso Sobukwe-hospitaal in Kimberley en oor komplikasies en sterftes wat voorgekom het. Sommige pasiënte het glo verkluim of aan longontsteking gesterf gedurende ’n tydperk van langer as ’n jaar waarin die psigiatriese hospitaal sonder krag was.
Die media wou van Maruping Lekwene, LUR vir gesondheid, weet hoekom die departement gewag het vir ’n verslag of vir mense om te sterf voordat hy opgetree het. Lekwene het gereageer dat die departement nie bloot teruggesit het nie.
“Dis nie dat hulle gewag het nie; daar was verskeie aantygings,” het hy gesê. Op 5 en 6 November verlede jaar is ’n strategiese werksessie gehou waarheen spesialiste en senior personeel van nasionale liggame uitgenooi is om te help om die uitdagings te ontleed.
“Ons was reeds in gesprek,” sê Lekwene en benadruk dat heelwat beraadslaging reeds plaasgevind het. Hy erken wel dat die verslag oor die psigiatriese hospitaal eers later deur die departement ontvang is.
Die verslag bevat die name van individue wie se optrede ondersoek moet word, ’n aanbeveling wat die departement verwelkom. “Ons gaan die verslag soos dit is implementeer; ons gaan dit nie herskryf nie,” sê hy. Lekwene het bevestig dat die departement die bevindings aanvaar en waarde daaraan heg.
Hy het die media verseker dat die saak nie daar gelaat gaan word nie.
Intussen berig SABC News die Vereniging van Staatsamptenare eis optrede teen al die werknemers wat in die verslag by verkeerde optrede betrek word. Die vereniging sê hy verwag dat die howe en polisie toepaslike stappe sal doen sou enige sake van wanbestuur of diefstal uit die ondersoeke spruit.
Die departement van gesondheid is intussen besig om sy ondersoeke, gegrond op die ombud se bevindings, af te handel.