On Now
Weekends 12:00 - 16:00
Saterdag Siësta Olebogeng
Show Background
NEXT: 16:00 - 20:00 OFM Decades with James
Listen Live Streams

Central SA

VF Plus verwelkom oproep om Noordwes munisipaliteite te skei

───   CHARNÉ VAN DER MERWE 08:25 Sat, 02 Aug 2025

VF Plus verwelkom oproep om Noordwes munisipaliteite te skei | News Article
Matthys van Tonder. Foto verskaf

Die toenemende steun en openbare druk word verwelkom vir die skei van munisipaliteite in die Noordwes en die herstel van twee afsonderlike administrasies.

Die VF Plus was van die begin af uitgesproke teen die gedwonge samesmelting van Potchefstroom en Ventersdorp in een munisipaliteit in 2016, sê Matthys van Tonder, VF Plus-raadslid.

“Die VF Plus het destyds daarop gewys dat dit ’n ondeurdagte, polities gedrewe besluit deur die ANC-regering was sonder behoorlike oorweging van elke gemeenskap se unieke behoeftes, identiteit en ontwikkelingsuitdagings.”

Van Tonder sê dit is egter noodsaaklik dat so ’n ontbondelingsproses deeglik beplan en verantwoordelik uitgevoer word.

‘Nie net nog munisipaliteit wat in duie stort’ 

“Net so belangrik is dat verseker moet word dat beide Ventersdorp en Potchefstroom as volhoubare munisipaliteite sal voortbestaan sonder ontwrigtings in dienslewering.”

Hy sê Ventersdorp het ’n kleiner inkomstebasis en moet alle ondersteuning ontvang om ’n ten volle funksionerende, selfonderhoudende dorp te wees met sy eie administrasie, begroting en ontwikkelingsprioriteite.

Dit moenie verander in nog ’n munisipaliteit wat heeltemal in duie stort en vergeet word nie.

“Die toekoms van Ventersdorp se inwoners kan nie onder die vaandel van vordering sonder substansie opgeoffer word nie.”

Ontbondeling moet die volgende insluit:

  • ’n Lewensvatbare finansiële raamwerk vir beide dorpe.
  •  ‘n Duidelike strategie vir dienslewering in Ventersdorp en behoorlike personeel- en infrastruktuurbeplanning.

Volgens van Tonder sal die party voortgaan om te veg vir ’n proses wat plaaslike beheer herstel, dienslewering verbeter en elke gemeenskap hul regmatige plek en waardigheid gee.

Die party doen ’n beroep op die nasionale en provinsiale owerhede om alle belanghebbendes te goeder trou sonder partypolitieke inmenging te betrek om te verhoed dat die foute van die verlede herhaal word.

“Die inwoners van Potchefstroom en Ventersdorp verdien beter – nie net in beginsel nie, maar ook in die praktyk,” sê van Tonder.

OFM Nuus dg

@ 2025 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.