Central SA
Geen diefstalsaak aangemeld ná twee mans in Klerksdorp verdwyn─── CHARNÉ VAN DER MERWE 08:00 Sun, 03 Aug 2025

Gerugte is onwaar dat twee vermiste mans van Noordwes moontlik met geld en diesel verdwyn het.
Geen saak van diefstal is aangemeld nie en hul verdwyning word nog ondersoek, sê kol. Adéle Myburgh, polisiewoordvoerder.
Christiaan van Blerk (34) en Donovan van der Walt (25) word sedert 14 Julie vermis nadat hulle glo hul werkplek verlaat en nooit teruggekeer het nie.
OFM Nuus het vroeër berig dat hulle na bewering onderdele by Klerksdorp Industria gaan haal het. Hulle is die laaste keer gesien by Afrikaner Plot, Wesselstraat, Meiringspark in ’n wit Toyota Hilux Raider met die nommerplaat KWF254NW.
Donovan van der Walt (25) word vermis. Foto: Noordwes-polisie
“Sedert hul verdwyning het die polisie al baie leidrade gekry dat hulle in Boksburg, Rustenburg en George gesien is,” sê Myburgh.
“Ten spyte van ’n uitgebreide soektog is geen positiewe resultate gevind nie en die polisie vra dringend die publiek se hulp om die vermiste mans op te spoor.”
Nadat die liggame van twee ongeïdentifiseerde mans Maandag (28/7) in die vroeë oggendure in die Snathing GG-gebied naby Pietermaritzburg in KwaZulu-Natal gevind is, het gerugte die rondte gedoen dat dit moontlik hulle kan wees.
Die voertuig waarmee die vermiste mans gery het. Foto: Noordwes-polisie
Myburg het Sondag (3/8) aan OFM Nuus gesê die liggame is nie die van die twee vermiste mans nie.
Dit lyk asof die onbekende mans elders vermoor is en hul liggame na ’n oop veld geneem is, het Myburgh vroeër gesê.
Van Blerk is skraal gebou, ongeveer 1,8 m lank, met lang bruin hare en bruin oë. Hy het ’n litteken op sy regterwang, ’n kruis-tatoeëermerk op sy bo-arm en ’n hoefyster-tatoeëermerk op sy bobeen.
Christiaan van Blerk (34) word sedert Julie vermis. Foto: Noordwes-polisie
Van der Walt, ook skraal gebou, is ongeveer 1,6 m lank, met bruin hare, ligblou oë en ’n swart snor en baard. Hy het verskeie tatoeëermerke, insluitend ’n leeu-tatoeëermerk op sy linkerarm/hand.
Enigiemand met inligting kan ao. Louis Harmse van die Klerksdorp-speurders by 083 607 1395 bel of die Stop Misdaadnommer 08600 10111. Anonieme wenke kan ook gestuur word via die MySAPS-app vanaf ’n slimfoon.
Myburgh sê afpersingsverwante inligting kan by 080 091 1011 aangemeld word.
OFM Nuus dg