Central SA
Kuruman-plaasmoord: Verdagtes bly in aanhouding─── CHARNÉ VAN DER MERWE 11:04 Tue, 05 Aug 2025

Die vier beskuldigdes in die moord op ’n Noord-Kaapse boer bly in aanhouding en sal na verwagting weer Vrydag (9/8) in die hof verskyn.
Potso Bogodile (21), Jan Tata (18), Orabile Vincent Motsewakgosi (24) en Kabelo Tata (26) het Maandag (4/8) in Kuruman se landdroshof verskyn nadat hulle die afgelope week opnuut in hegtenis geneem is, sê Lize-Mari Smit, AfriForum-koördineerder.
Geen borgtogaansoek is tydens die verskyning ingedien nie.
Die vier mans word verbind met die moord op Hendrik Venter (81), ’n veeboer van Kuruman, wat in September op sy plaas vermoor is.
Venter het Kameelaar, die plaas waar hy gewoon het, omstreeks 08:30 die oggend verlaat om een van sy ander plase te besoek. Sy liggaam is omstreeks 09:45 deur ’n boer van ’n buurplaas langs sy voertuig by die hek van die eiendom ontdek.
Saak voorheen voorlopig geskrap
OFM Nuus het voorheen berig dat die beskuldigdes aanvanklik uit aanhouding vrygelaat is en dat die saak op 10 April voorlopig van die rol geskrap is weens ’n gebrekkige polisiedossier en ondersoekwerk wat benede peil was.
Ná volgehoue druk van AfriForum en die DA is die verdagtes op 29 Julie weer in hegtenis geneem.
Sy organisasie versoek die NVG om die prosedurele en administratiewe mislukkings in die saak onder die loep te neem, sê Thomas van Dalen, AfriForum se hoof van die Noord-Kaap-streek.
“Dit is nie net ’n administratiewe oorsig nie – dit is ’n geregtelike dwaling. Die NVG is dit aan die Venter-familie en elke familie wat deur plaasaanvalle verwoes is, verskuldig om vir geregtigheid te veg en te verseker dat sake nie bloot laat vaar word nie,” sê Van Dalen.
NVG hulp aangebied
AfriForum het verder aangedui dat hy bereid is om die NVG op enige moontlike manier by te staan, insluitend met die aanbied van private forensiese ondersteuning en regsadvies, om te verseker dat die saak doeltreffend en sonder verdere vertragings verloop.
Willie Aucamp van die DA het aan OFM Nuus gesê dat sy party by alle hofverrigtinge teenwoordig sal wees om te verseker dat die regsprosesse behoorlik gevolg word.
OFM Nuus/Charné van der Merwe cvs