Central SA
Rou riool oorstroom strate, huise op Ladybrand─── KEKELETSO MOSEBETSI 10:24 Wed, 06 Aug 2025

Inwoners van Mantsopa-munisipaliteit in die Vrystaat beleef ’n sanitasienagmerrie terwyl onverwerkte riool deur strate in verskeie woongebiede vloei.
Sommige inwoners sê riool loop direk binne-in hul huise, wat hulle moedeloos en magteloos laat.
Video’s en foto’s wat met OFM Nuus gedeel is, wys die omvang van die krisis: Riool stroom in en uit by ’n woonhuis en matrasse lê oortrek van die riool in ’n slaapkamer. Die situasie het in verskeie gebiede vererger, veral in Masakeng Wyk 5 en Mekokong Wyk 3 in Ladybrand, waar inwoners die ergste deur die aanhoudende krisis getref word.
Die probleem ruk al langer as twee weke handuit en neem nou krisisafmetings aan.
Luidens bronne het dienslewering begin verswak in die munisipaliteit, wat dorpe soos Ladybrand, Excelsior, Tweespruit en Hobhouse bedien, ná ’n besluit van Samwu-lede om hul werkure te verminder. Vakbondlede het na bewering besluit werknemers sal nou net van 07:30 tot 16:30 werk, soos per hul skofte.
Die besluit volg glo nadat die munisipaliteit oortydbetaling geskrap het, wat bestaande personeeltekorte verder vererger en dienste in duie laat stort het. Vrystaatse munisipaliteite se onvermoë om hul dienste te bestuur, is weer onder die soeklig ná onlangse oorsigbesoeke deur die nasionale portefeuljekomitee oor samewerkende regering en tradisionele sake.
Dié besoeke het wanorde in verskeie Vrystaatse munisipaliteite aan die lig gebring; baie kan nie eens aan die vereistes van basiese dienslewering voldoen nie. Wanbesteding kom wydverspreid voor sonder enige sigbare gevolge vir diegene wat aan swak bestuur skuldig is.
Die ANC-jeugliga in die Vrystaat is ook besorg en het die ANC se provinsiale leierskap gevra om op te tree teen burgemeesters, speakers en munisipale amptenare wat by wanadministrasie betrokke is.
OFM het navrae aan die Mantsopa-munisipaliteit gerig.