Central SA
Vrystaatse beenmurg-ontvanger het enduit voluit geleef─── CHARNÉ VAN DER MERWE 07:33 Thu, 07 Aug 2025

Die Vrystater wat ’n week ná ’n beenmurgoorplanting oorlede is, sal Donderdag (7/8) ter ruste gelê word.
George Roos (25), van Heilbron, is Saterdag (25/7) oorlede nadat hy op 25 Julie ’n beenmurgoorplanting ondergaan het. Sy liggaam het egter kort daarna in skok gegaan.
Roos het vroeër vanjaar bloedtoetse ondergaan nadat sy familie opgemerk het dat hy baie bleek gelyk het, maklik gekneus het en vergeling in sy oë gehad het. Die toetse het aan die lig gebring dat sy beenmurg opgehou het om bloedselle en bloedplaatjies te produseer, vertel sy pa, George sr.
Hy het gereelde bloed- en bloedplaatjiesoortappings ontvang in die Netcare Pretoria-Oos-hospitaal, waar hy opgeneem was,
George sr. het Saterdag kort ná 22:00 ’n boodskap op ’n WhatsApp-groep gedeel: “George se liggaam het gisteraand in skok gegaan, wat noodlottig was, en George is nie meer met ons nie.”
Hy beskryf sy seun as ’n positiewe persoon wat mense liefgehad het en voluit geleef het. “Hy is diep gelief deur diegene rondom hom en laat ’n leemte in die lewe van baie – jonk en oud. Hy was iemand wat nooit gehuiwer het om ook die tweede myl te loop nie,” sê hy aan OFM Nuus.
George Roos is 'n week ná 'n beenmurgoorplanting oorlede. Foto George Roos
In ’n grootskaalse poging om vir Roos ’n skenker te soek, het inwoners van Heilbron en Frankfort in Mei bymekaargekom om as potensiële beenmurgskenkers vir Roos getoets te word.
Sol-Tech, die beroepskollege waar Roos studeer het, betuig sy meegevoel en sê die personeel en studente bid dat die Here, deur sy Gees, ware vertroosting aan sy geliefdes sal bring.
“Die verlies van ’n student raak ons almal se hart. Baie sterkte aan George se familie en vriende gedurende hierdie moeilike tyd,” lui ’n plasing op Sol-Tech se Facebook-blad.
Roos word Donderdag om 09:30 op die plaas Vegkop begrawe, gevolg deur ’n kerkdiens om 11:00 in die NG Moederkerk Heilbron.