Central SA
Veediefstalsaak sloer al twee jaar, weer uitgestel─── CHARNÉ VAN DER MERWE 16:14 Thu, 07 Aug 2025

’n Veediefstalsaak waarin twee mans daarvan beskuldig word dat hulle kalwers van duisende rande van ’n Vrystaatse boer gesteel het, is weer uitgestel
Die saak, wat Donderdag (7/8) in Brandfort se landdroshof aangehoor is, is vir die vyfde keer in meer as twee jaar uitgestel, dié keer tot 19 Augustus vir 'n voorverhoor omdat hul prokureur na bewering siek was. Tsietsi Issac Nkoala en Thando Theophilus Gxala het herhaaldelik van regsverteenwoordigers verander en verskeie verskonings aangebied, wat voortdurende vertragings meegebring het.
Nege speenkalwers van byna R90 000 is op 28 Maart 2023 van Charles Stevens se plaas in die distrik Brandfort gesteel. Stevens het die volgende oggend besef iets skort toe hy minder beeste in sy veld opgemerk het. Sy vermoede is bevestig toe hy die vee getel het.
Wimpy Botha en Charles Stevens buite die hof. Foto: Charne van der Merwe
Die beskuldigdes het na bewering ’n week voor die diefstal ’n sleepwa op Hennenman gehuur. Die sleepwa is nooit terugbesorg nie en die eienaar het dit as gesteel aangemeld.
Dieselfde sleepwa is glo deur die beskuldigdes gebruik toe hulle die heining oopgesny het om Stevens se veld binne te gaan, waarna hulle die beeste gelaai en na Hennenman sou vervoer het, waar ’n veiling die volgende dag gehou is.
Wimpy Botha van die afslaers André Kock en Seun sê die boeregemeenskap was op die uitkyk vir die gesteelde sleepwa. “Toe die waentjie in Hennenman inry, het die veiligheidskamera dit opgemerk, waarna die polisie dadelik in kennis gestel is.”
Met hul aankoms met die gesteelde sleepwa by die veiling het die polisie toegeslaan. Die wa met die kalwers is na die polisiekantoor geneem vir verdere ondersoek. Toe die diere terugbesorg is, was hulle skielik op die een of ander manier gebrandmerk.
Afslaer ruik lont
Botha vertel hy het aangevoel iets is fout toe die nuut gebrandmerkte diere weer by die veiling opdaag. Hy het die beskuldigdes toegelaat om die diere deur die veilingsirkel te laat gaan sodat dit verkoop kon word. Hy het die beskuldigdes belowe dat hulle die volgende dag betaal sou word, maar Botha het die opbrengs eers gehou, omdat hy vermoed het dat ’n misdaad gepleeg word.
Intussen het Stevens die diefstal by die polisie aangemeld. Nadat hy van die veiling gehoor het, het hy foto’s van sy vermiste kalwers na die afslaers gestuur. Hy kon een van sy kalwers identifiseer op grond van ’n unieke merk op sy lyf, wat bevestig het die vee wat verkoop word, was inderdaad syne.
Die saak word steeds ondersoek.