On Now
Weekdays 12:00 - 15:00
At Lunch Pulane
Show Background
NEXT: 15:00 - 18:00 The Joyride with Nico, Nikki, Kayla and JayBee
Listen Live Streams

Central SA

Familie pleit vir hulp om vermiste Vrystater te vind

───   CHARNÉ VAN DER MERWE 10:27 Mon, 11 Aug 2025

Familie pleit vir hulp om vermiste Vrystater te vind | News Article
Jan Dirk Henning word vermis. Foto: Madelein Neethling

Die familie van ’n Bloemfonteinse man is ontsteld nadat hy Donderdag (8/8) vermis geraak het kort nadat hy in die Pelonomi-hospitaal opgeneem is.

Jan Dirk Henning (54) ly aan ’n ernstige psigotiese toestand en is op die betrokke dag in die hospitaal opgeneem vir waarneming. Madelein Neethling, sy suster, sê sy toestand het die laaste paar maande versleg; daarom het hulle besluit om hom te laat opneem.

Henning het op ’n plaas by Petrus Steyn gewoon waar sy familie hom gereeld besoek het om kos en klere vir hom te bring. “Hy het nie beter geword nie – hy het agteruitgegaan. Ons het hom na Pelonomi geneem omdat ons bekommerd was oor sy gesondheid, maar nou is hy net weg.”

Hospitaal ‘wou geen inligting gee’

Henning het geen mediese fonds nie en sou na ’n afsonderingsafdeling oorgeplaas word. Neethling glo daar was dalk nie genoeg beddens beskikbaar nie en in ’n stadium het hy blykbaar eenvoudig uit die hospitaal geloop sonder om uit te teken.

Die familie is Saterdag net ná 19:00 in kennis gestel dat hy vermis word. Toe Neethling die hospitaal kontak, het die personeel volgens haar geweier om nadere besonderhede te verskaf en gesê hulle kan nie bevestig dat sy sy suster is nie.

Hy het geen vrou of kinders

As gevolg van sy mediese toestand kan dit gebeur dat hy vir mense sê dat hy na sy “vrou en kinders” wil terugkeer, maar Neethling waarsku dat dit nie waar is nie; hy was nog nooit getroud nie en is kinderloos.

Die familie pleit dat enigiemand wat hom moontlik gesien het, onmiddellik na vore kom.

Enigiemand wat weet waar Henning hom bevind, kan Neethling by 082 861 3862 bel.

OFM Nuus/Charne van der Merwe

@ 2025 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.