Central SA
Defensor-direkteure in Noord-Kaap in November gevonnis vir tenderbedrog─── CHARNÉ VAN DER MERWE 14:04 Tue, 12 Aug 2025

Twee direkteure van Defensor Electronic Security Systems sal van 17 tot 19 November in die hooggeregshof in Kimberley gevonnis word ná hul skuldigbevinding op aanklagte van onder meer bedrog.
Gert Renier van Rooyen (62) en Claudius Gerald Peterson (57) is Maandag (11/8) daaraan skuldig bevind dat hulle met bedrieglike dokumente ’n veiligheidskontrak van die Noord-Kaapse departement van gesondheid bekom het. Die kontrak, aanvanklik ter waarde van R224 miljoen, het tot R384 miljoen opgeskiet.
Die voormalige hoof van die departement, Steven Jonkers (55), wat saam met hulle tereggestaan het, is op alle aanklagte vrygespreek, sê kol. Tebogo Thebe, Valke-woordvoerder.
Volgens die staat is die verkrygingsprosesse doelbewus omseil. Die maatskappy het nie ’n geldige belastingklaringsertifikaat gehad toe die tender in 2017 toegestaan is nie, en was nie by Psira, die reguleringsowerheid vir die privaat sekerheidsbedryf, geregistreer nie.
Die Psira-nommer wat op die bod gebruik is, het aan ’n ander maatskappy behoort. PricewaterhouseCoopers se forensiese ouditeur Trevor White het getuig dat geen behoorlike beoordeling van die tender plaasgevind het nie en dat die bod reeds in 2015 verstryk het voordat ’n verlenging aangevra is.
Beskuldigdes ‘verdraai feite’
Adv. Isaac Mangena, vir die staat, het aangevoer dat die beskuldigdes die feite verdraai het. Adv. Willem Edeling SC, vir die verdediging, het volgehou Defensor het toestemming gehad om die registrasienommer van ’n verwante entiteit te gebruik en het selfs ’n betalingsbewys aan Psira verskaf. Hy het White ook van vooroordeel beskuldig.
Die saak het lank gesloer. Die Valke se eenheid vir ernstige korrupsie-ondersoeke het dit reeds in Desember 2017 as ’n klag geregistreer, waarna dit in Januarie 2020 ’n saakdossier geword het. Die beskuldigdes het hulle in Oktober 2021 aan die polisie oorgegee.
In Januarie vanjaar het Van Rooyen, Peterson en hul maatskappy ’n aansoek gebring dat waarnemende regter Omphemetse Chwaro hom van die verhoor moet verskoon op grond van beweerde partydigheid. Dit het gekom ná ’n vroeëre mislukte poging om ontslag op al die aanklagte te kry.
Hulle het sewe gronde vir hul aansoek aangevoer, insluitend die regter se weiering om die verhoor uit te stel dat ’n getuie vir die verdediging oor die geloofwaardigheid van die tenderdokumente en beweerde voorkeurbehandeling van die staat kon getuig.
Vereistes vir tender nie nagekom
Regter Chwaro het die aansoek egter in sy geheel van die hand gewys en gesê dit voldoen nie aan die vereistes vir ontslag nie. Hy het uit die hofrekord voorgelees om aan te toon dat hy sowel die staat as verdediging tot orde roep indien nodig, en dat besware teen leidende vrae aan albei kante gehanteer is. Hy het ook aangedui dat die verdediging se optrede soos bedekte appèlaansoeke teen sy besluite voorkom.
Die aanklagte teen Van Rooyen en Peterson behels dat hulle die vereistes vir die tender nie nagekom het nie, ’n valse belastingklaringsertifikaat ingedien het en aangedui het dat hulle geen belange in verwante maatskappye het nie, wat nie die waarheid is nie. Jonkers, as rekenpligtige beampte, sou glo die departement mislei het deur te beweer dat alle verkrygingsvereistes nagekom is, terwyl die Wet op Openbare Finansies se bepalings opsetlik en roekeloos geïgnoreer is.
Genl.maj. Stephen Mabuela, provinsiale hoof van die Valke, het die skuldigbevinding verwelkom. “Die wiele van geregtigheid het dalk stadig gedraai, maar hierdie uitspraak gee ons hoop. Ek betuig my waardering aan die ondersoek- en vervolgingspanne vir hul harde werk.”