On Now
Weekdays 12:00 - 15:00
At Lunch Pulane
Show Background
NEXT: 15:00 - 18:00 The Joyride with Nico, Nikki, Kayla and JayBee
Listen Live Streams

Central SA

‘Vermiste’ Klerksdorpers aangekla van diefstal

───   CHARNÉ VAN DER MERWE 10:30 Wed, 13 Aug 2025

‘Vermiste’ Klerksdorpers aangekla van diefstal | News Article
Donovan van der Walt (25) en Christiaan van Blerk (34). Foto: Noordwespolisie

Die twee mans van Klerksdorp wat byna drie weke lank vermis was, sal weer op 18 Augustus in die hof verskyn.

Christiaan van Blerk (34) en Donovan van der Walt (25) het Vrydag (8/8) voorgekom in die Klerksdorpse landdroshof op aanklagte van diefstal, sê kol. Adéle Myburgh, Noordwes-polisiewoordvoerder. Hulle is Donderdag in Kempton Park op Gauteng se Oos-Rand opgespoor met die hulp van die publiek. Hulle is ongedeerd gevind.

Van der Walt en Van Blerk is as vermis aangemeld nadat hulle laas op Maandag 14 Julie gesien is. Hulle is werknemers van Afrikaner Holding in Meiringspark, Klerksdorp. 

Die voertuig waarmee die vermiste mans gery het. Foto: Noordwespolisie

Die twee het hul werkplek op die betrokke dag in ’n wit Toyota Hilux Raider-bakkie verlaat om onderdele in Klerksdorp se nywerheidsgebied af te haal, sê Myburgh. Hulle het nooit teruggekeer nie en die voertuig, wat aan hul werkgewer behoort, en ’n onbekende bedrag kontant word steeds vermis.

Op 28 Julie is die liggame van twee ongeïdentifiseerde mans naby Pietermaritzburg, KwaZulu-Natal, ontdek terwyl die twee Noordwesters nog soek was. Gerugte het die rondte gedoen dat die liggame moontlik aan Van Blerk en Van der Walt behoort het. 

Myburgh het egter later bevestig dat hierdie gerugte ongegrond was. Die twee mans bly in aanhouding tot hul volgende hofverskyning op 18 Augustus.

LEES OOK: Vermiste Noordwes-mans ná byna ’n maand gevind

Die polisie herinner die publiek daaraan dat vermiste mense onmiddellik by die naaste polisiekantoor aangemeld kan word. Verslae moet ’n onlangse foto van die vermiste persoon insluit, tesame met besonderhede van wat hulle aangehad het en waar hulle laas gesien is.

“Sedert 2020 het die polisiediens 17 968 vermiste persone met hul naasbestaandes herenig,” sê Athlenda Mathe, nasionale polisiewoordvoerder. “Dit sluit volwassenes sowel as kinders in wat landwyd as vermis aangemeld is.

“Die polisie bly daartoe verbind om alle mense in Suid-Afrika te dien en te beskerm, en herinner die publiek daaraan dat daar geen wagtydperk is om iemand as vermis aan te meld nie.”

OFM Nuus mvh

@ 2025 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.