On Now
Weekdays 15:00 - 18:00
The Joyride Nico, Nikki, Kayla and JayBee
Show Background
NEXT: 18:00 - 19:00 OFM Business Hour with Olebogeng
Listen Live Streams

Central SA

Ses in Kimberley-hof ná gru-vonds in put

───   11:35 Thu, 14 Aug 2025

 Ses in Kimberley-hof ná gru-vonds in put | News Article
Die verdagtes. Foto verskaf

Ses verdagtes sou Donderdag (14/8) in Kimberley se landdroshof voorkom in verband met die moord op twee mense vir wie hulle blykbaar van veediefstal verdink het.

Roodepan se polisie het ’n groot deurbraak gemaak in hul geregtelike doodsondersoek toe hulle die ses buitelanders (tussen 20 en 40) in hegtenis geneem het, sê sers. Timothy Sam, Noord-Kaapse polisiewoordvoerder. Die twee liggame is op Maandag 7 Julie in ’n put naby die Midlands-watersuiweringsaanleg in Roodepan ontdek.

“Weens die gevorderde stadium van ontbinding kon die identiteit en geslag van die oorledenes nie onmiddellik bepaal word nie,” sê Sam.

Voorlopige ondersoeke dui daarop ’n groep buitelanders, wat blykbaar as veewagters in die kommunale boerderygebied Lethabo Park naby Roodepan gewerk het, het die twee slagoffers omstreeks Paasnaweek van veediefstal beskuldig.

Verdagtes ‘aangerand, in put gegooi’

“Die verdagtes het na bewering die slagoffers noodlottig aangerand en toe hul liggame in die put gegooi,” sê Sam. Al ses word aangekla van moord en sou Donderdag vir die eerste keer in Kimberley se landdroshof verskyn.

Hy voeg by die polisie se ondersoek duur voort.

Intussen het Kimberley se polisie Woensdag 26 ongedokumenteerde buitelanders op die stad se munisipale stortingsterrein aangekeer.

Beamptes het aansienlike sukses behaal toe hulle as deel van ’n multidissiplinêre optrede toegeslaan het op veral buitelanders wat onwettig in die land is, en veral weens onwettige vuurwapenbesit en dwelms, sê lt. Sergio Kock, provinsiale polisiewoordvoerder. Die optrede maak deel uit van Operasie Shanela II.

‘Die 26 aangekeerdes se inligting sal verwerk word vir deportasie deur immigrasiedienste’

Die beamptes van die Kagisho- en Kimberley-polisiekantoor is bygestaan deur amptenare van binnelandse sake en immigrasiedienste, Operasie Vala Umgodi-spanne, die polisie se taktiesereaksie-, honde- en berede eenheid asook misdaadintelligensie.

Toe die beamptes op die munisipale stortingsterrein toeslaan, het talle mense probeer vlug, maar beamptes te voet en te perd het hulle gou-gou aangekeer, sê Kock. “Die 26 aangekeerdes (tussen 19 en 49) se inligting sal verwerk word vir deportasie deur immigrasiedienste.”

Die spanne het ook ’n sigbarepolisiëringsoperasie in die middestad en omstreke uitgevoer waartydens mense en voertuie voorgekeer en deursoek is en voldoeningsinspeksies van drankhandelaars en tweedehandswinkels gehou is.

“Operasie Shanela II sal doelgerig en standvastig voortgaan om daadwerlik toe te sien dat misdadigers in die Noord-Kaap aan die man gebring word,” sê Kock.

OFM Nuus cvscvs

@ 2025 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.