Central SA
Vrystater een tree nader aan Mev. Heelal SA-kroon─── CHARNÉ VAN DER MERWE 14:16 Thu, 14 Aug 2025

’n Vrystater het nie net die harte van die publiek verower nie, maar amptelik haar plek as ’n topvyf-finalis in ’n gesogte skoonheidswedstryd verseker.
Charlene Kleynhans (35) van Hoopstad erken sy het nooit kon dink sy sou dit so ver bring in die Mev. Heelal Suid-Afrika-kompetisie nie, en nou wag sy op die kroningsplegtigheid in Februarie.
“Dis ’n ongelooflike eer, maar ook ’n groot verantwoordelikheid,” sê sy. “Maar ek geniet elke tree van hierdie reis. Ek glo werklik dat God my vir hierdie oomblik en hierdie platform geroep het.
“Daardie oortuiging voed my passie. Ek gee alles – nie net vir myself nie, maar om ’n betekenisvolle impak te maak waar ek kan. Ek het soveel geleer en gegroei, en ek is elke liewe dag dankbaar vir hierdie geleentheid.”
Charlene het reeds belangrike mylpale gevier. Met die halfeindronde-beoordeling is sy as die publiek se gunsteling aangewys. By die “Celebrate You”-middagete is haar tafel as die beste aangewys, terwyl een van haar borge die toekenning vir die besgeklede gas huis toe geneem het.
Charlene Kleynhans. Foto: Charlene Kleynhans
Hierdie oomblikke is konstante herinneringe dat die reis nie net oor haar gaan nie – maar ook oor die mense wat haar ondersteun en saam met haar stap, sê sy.
Sy probeer egter om nie dinge vooruit te loop nie. “My fokus is op die huidige oomblik.”
Met ’n kalm en doelbewuste benadering werk sy stap vir stap op pad na die kroon. “Ek het ’n wonderlike mentor en die organiseerders was fantasties. Elke fase van hierdie kompetisie bring sy eie uitdagings en groeigeleenthede, en ek omarm hulle almal.
“Ek bly (ontvanklik), bereid om te leer, en ek gebruik elke ervaring om sterker, wyser en beter voorbereid te word op wat voorlê.”
Een van haar hoofdoelwitte is om ’n werklike verskil te maak. Sy is veral passievol oor bewustheid rakende geslagsgeweld onder jong meisies en die uitlig van gesinsgeweld in haar gemeenskap – onderwerpe wat ’n belangrike deel van die finale beoordeling in Januarie sal uitmaak.
Sy neem ook deel aan werksessies wat nie net op eksterne voorbereiding fokus nie, maar ook op innerlike groei, alles ter voorbereiding op die finale kroning in Februarie in Sandton, Johannesburg.
As die oudste van twee susters sê sy tydens haar kinderjare is waardes soos respek, harde werk en omgee vir ander by haar ingeskerp, beginsels wat haar vandag nog rig. Hierdie waardes vorm die vrou wat nou haar gemeenskap op ’n nasionale verhoog verteenwoordig.
Terwyl die verowering van die kroon ’n droom sal wees wat waar word, strek Charlene se visie veel verder as die titel.
“Ek wil hê vroue moet weet dat hulle waardevol is – net soos hulle is. Ek wil hulle aanmoedig om hulself deur God se oë te sien, nie net deur die lens van hul foute of tekortkominge nie. Elke vrou het iets unieks om te bied. Ons moet mekaar opbou, nie afbreek nie.”
Deur haar veldtog “EmpowerHerMindCrownHerHeart” pleit sy vir groter aandag aan geestesgesondheidsorg en ondersteun sy vroue om hul gedagtes, harte en lewens te koester.
Charlene is ook ma van drie jong dogters, ’n toegewyde vrou van ’n passievolle boer, en ’n gedrewe entrepreneur. Foto: Charlene Kleynhans
“Om die kompetisie te wen sal so ’n eer wees – nie net vir die titel nie, maar omdat dit my ’n groter platform sal gee om ’n werklike verskil te maak. Ek wil hê jong vroue moet weet dat hulle die reg het om groot te droom en te glo dat hulle waarde het net soos hulle is.
“Maar ek weet ook dit: As die kroon vir my bedoel is, sal dit myne wees. Tot dan sal ek aanhou groei, aanhou glo en aanhou wys dat dit nie die kroon is wat my definieer nie – dit is wat ek daarmee doen wat werklik saak maak.”
Uit die openbare oog staan Charlene ’n paar groot skoene vol: Sy is ’n ma van drie jong dogters, ’n toegewyde vrou van ’n passievolle boer, en ’n gedrewe entrepreneur.
Charlene Kleynhans. Foto: Charlene Kleynhans
“Dit is nie altyd maklik nie, maar ek glo in beplanning. Ek beplan elke week vooruit om te verseker dat ek tyd maak vir alles – en almal – insluitend myself. My kinders en my huwelik sal altyd my topprioriteite wees.”
Wanneer sy wel tyd vir haarself vind, gee sy haar ruimte om te herlaai. “Soms doen ek absoluut niks. Ek kyk dalk ’n goeie TV-reeks of, veral hierdie tyd van die jaar, sluit ek by my man op die plaas aan.
“Ek maak ook plek vir vriende, koffie-afsprake en die spa-besoek af en toe. Om saam met mense te wees wat my onvoorwaardelik liefhet, gee my energie.
“Ek het geleer dat jy nie uit ’n leë koppie kan skink nie. Om na jouself om te sien is nie selfsugtig nie – dis nodig.”