Central SA
Dawie Snyman sterf op 76─── CHARNÉ VAN DER MERWE 15:59 Thu, 14 Aug 2025

Die voormalige Springbok-heelagter en losskakel Dawie Snyman (76) is Donderdag (14/8) oorlede nadat leukemie onlangs by hom gediagnoseer is.
Snyman, ook ’n suksesvolle Blitsbok- en WP-afrigter, het van 1972 tot 1977 tien toetswedstryde vir Suid-Afrika gespeel. Hy het sowel heelagter as losskakel gespeel en ’n drie, vier strafdoele, twee skepdoele en ’n doelskop in die Groen-en-goud aangeteken. Hy het wedstryde vir die Springbokke gespeel en 86 punte bygedra.
Snyman, ’n oudleerling van Grey Kollege in Bloemfontein wat ook die Vrystaat in die Cravenweek verteenwoordig het, het ná skool aan die Universiteit Stellenbosch gaan studeer waar hy Maties en die Westelike Provinsie met onderskeiding verteenwoordig het
Volgens Mark Alexander, president van SA Rugby, is Snyman, wie se ouer broer, Jackie, ook toetsrugby vir Suid-Afrika gespeel het, vir die Bokke gekies nog voordat hy senior provinsiale rugby gespeel het toe hy in 1971 na Australië getoer het.
Vyf keer agtereenvolgens die Curriebeker verower
Snyman het egter eers ná die toer sy WP-debuut gemaak.
“Hy het lojaal aan die Streeptruie gebly en WP van 1982 tot 1986 afgerig toe die span vyf keer agtereenvolgens die Curriebeker verower het. Hy het in 1989 die beker met die Bulle gedeel,” sê Alexander.
Snyman het ook Suid-Afrika in die Wêreldbeker-rugbysewestoernooi in 1997 afgerig toe die Blitsbokke in die eindstryd in Hongkong teen Fidji verloor het. Hy was ook by die Leeus en Maties betrokke.
Dawie Snyman in sy jonger dae. Foto: The Waterhole Rugby Museum
“Dawie sal nie net onthou word as ’n vasberade speler wat uiters hard gewerk en op internasionale vlak in twee posisies sukses behaal het nie, maar ook as een van die beste afrigters wat Suid-Afrikaanse rugby geken het,” sê Alexander.
Verkies om mentor en leier te wees
“Hy kon baie langer gespeel het, maar het eerder verkies om as mentor en leier in die spel te belê en het generasies spelers met sy insig en passie gevorm. Sy bydrae tot rugby in Suid-Afrika is onmeetbaar.
“Dit is nooit maklik om ’n lid van die Suid-Afrikaanse rugbyfamilie te verloor nie. Ons betuig ons innige meegevoel aan sy vrou, Pam, sy dogters, Louise, Patse, Pam en Danielle, en aan hul uitgebreide familie, geliefdes en vriende in hierdie tyd van rou.
“Mag julle vertroosting vind in die nalatenskap van ’n man wat vir altyd onthou sal word as een van die grotes van Suid-Afrikaanse rugby.”
OFM Nuus dg