On Now
Weekdays 12:00 - 15:00
At Lunch Pulane
Show Background
NEXT: 15:00 - 18:00 The Joyride with Nico, Nikki, Kayla and JayBee
Listen Live Streams

Central SA

Noordwes-polisie slaan toe op misdaadneste in Potchefstroom

───   11:05 Fri, 15 Aug 2025

Noordwes-polisie slaan toe op misdaadneste in Potchefstroom | News Article
Die polisie het in die woonstelblokke in Potchefstroom op uiteenlopende dwelms beslag gelê. Foto: SAPD

Die Noordwes-polisie beloof om aan te hou toeslaan op misdadigers wat dink hulle kan die lang arm van die gereg vryspring.

Beamptes het van vroeg Woensdagoggend (13/8) twee woonstelblokke in Autolaan en Dr. James Morokastraat, Pochefstroom, afgesper en deursoek, sê kol. Adéle Myburgh, provinsiale polisiewoordvoerder. Hulle het gereageer op inligting van die publiek oor die situasie in die woonstelle.

Die operasie, onder leiding van die waarnemende distrikskommissaris, brig. Peter Juma, het beamptes ingesluit van die plaaslike polisiekantoor, misdaadintelligensie, openbare-ordepolisie, die taktiesereaksie-eenheid, honde-eenheid, sigbarepolisiëringsbeamptes en speurders.

Beslag is gelê op ses selfone, ’n fiets en meer as R70 000 se koperkabels. Foto: SAPD

Eindelik is 85 mense aangekeer vir die oortreding van die Immigrasiewet, die meeste van hulle Malawiërs. Twee is in hegtenis geneem vir dwelmhandel en drie omdat hulle in besit betrap is van vermoedelik gesteelde goedere, sê Myburgh.

Die multidissiplinêre span het beslag gelê op onder meer koperkabels, meestal in 2 m-lengtes gesny, ter waarde van meer as R70 000, uiteenlopende dwelms soos nyaope, tik, Mandrax en dagga, ’n fiets en ses selfone.

“Die polisie sal aanhou om druk toe te pas en misdadigers uit hul skynbaar veilige wegkruipplekke te dwing,” sê genl.maj. Patrick Asaneng, waarnemende Noordwes-polisiekommissaris. “Dit is juis waarom hierdie afsper-en-deursoek-operasie uitgevoer is in ’n deel van Potchefstroom wat ’n teelaarde vir allerhande misdade geword het.”

Die meeste van die nuwe konstabels is vroue. Foto: SAPD

Intussen het lt.genl. Koliswa Otola, Noord-Kaapse polisiekommissaris, ’n uitpasseringsparade by die polisie se Manwke-akademie in Noordwes gelei.

Altesaam 286 pas opgeleide polisiekonstabels, van wie 215 vroue is, het by die akademie op aandag gestaan om hul loopbaan in diens van Suid-Afrika se inwoners te begin.

Hul opleiding maak deel uit van die regering se pogings om die polisiediens te versterk en sigbare polisiëring in alle gemeenskappe op te skerp. Die nuwelinge moet help om misdaadbestrydingspogings te bespoedig.

OFM Nuus cvsmc

@ 2025 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.