Central SA
Man in Jacobsdal vir diefstal aangekeer─── CHARNÉ VAN DER MERWE 08:34 Sat, 16 Aug 2025

‘n Vrystater (28) sal na verwagting Maandag (18/8) in die hof verskyn op ’n aanklag van diefstal, nadat ’n gesteelde bakkie binne enkele ure opgespoor en teruggevind is.
Die vinnige optrede van die landelike veiligheidsplan het tot die opsporing van die gesteelde voertuig in die Jacobsdal-omgewing gelei, sê kapt. Lorraine Earle, polisiewoordvoerder.
“ ’n Wit Toyota Hilux-bakkie is Vrydag (15/8) omstreeks 09:45 as gesteel aangemeld nadat die eienaar dit vir ’n ruk op ’n plaas in die Jacobsdal-distrik gelos het.”
Volgend Earle is die voorval onmiddellik by die polisie, landelike veiligheidsnetwerke en ’n private veiligheidsmaatskappy aangemeld.
Die gesteelde voertuig is later terug gekry. Foto: SAPD
“Teen sowat 12:30 is die voertuig op die R705 naby die ingang van Jacobsdal opgemerk. Die polisie het vinnig gereageer en die bakkie voorgekeer.”
’n Man wat nie aan die eienaar bekend is nie, is op die toneel in hegtenis geneem en die voertuig is gekonfiskeer.
Mees geteikende voertuie
In Suid-Afrika is sekere voertuie aansienlik meer geneig om gekaap of gesteel te word. Volgens Bidvest Insurance-data van die vierde kwartaal van 2024/2025 is die mees geteikende voertuigkategorieë vir kapings sedans en luikrug-motors. Sowat 44,4% van die diefstalle is in dié kategorie. Bakkies en paneelwaens se persentasie is 33,1%, terwyl sportnutsvoertuie en stasiewaens 7,5% is. Dit is opmerklik dat motorfietse en swaar vragmotors skerp toenames in kapings ervaar het, met stygings van onderskeidelik 20,2% en 56,8%.
Wanneer na spesifieke voertuigmodelle gekyk word, toon onlangse statistieke dat die Volkswagen Polo die mees gekaapte motor in die land is, wat ongeveer 8,6% van die aangemelde gevalle uitmaak. Dit word gevolg deur die Toyota Hilux met 6,8%, die Ford Ranger met 4,9%, die Toyota Etios met 4,8%, die Toyota Fortuner met 4,6% en die Nissan NP200 met 4,2%.
’n Lys van hoërisiko-modelle wat deur Fidelity en ander belanghebbendes saamgestel is, beklemtoon voertuie wat gereeld geteiken word is weens hul herverkoopwaarde en vraag na onderdele.
‘Misdadigers kies gewilde modelle’
Dit sluit in verskeie Toyota-modelle soos die Hilux (GD6, D4D), Fortuner, Prado, Land Cruiser, Corolla, RAV4 en Corolla Cross. Ook op hierdie lys verskyn die Ford Ranger, Volkswagen Polo, Nissan NP200, Hyundai i20 en BMW 3-reeks. Hierdie voertuie word dikwels deur misdadigers gekies vir hul gewildheid, betroubaarheid en gemak van stroop vir onderdele of herverkoop plaaslik en oor grense heen.
OFM Nuus dg